Abstract:
Keuses wat omgee-ouers uitoefen word gewoonlik met die beste bedoelings gemaak, maar
het dikwels onvoorsiene gevolge. Min ouers deurdink die kritieke rol wat taal in ’n komplekse
omgewing soos die klaskamer speel. Sommige glo ook dat ’n onderrigtaal bloot ’n leivoor is
vir die oordrag van kennis, en is nie altyd bewus van die sterk, tog onsigbare verbintenis tussen
die skool en die huisomgewing nie.
My mededelings versteur moontlik die meningsekwilibrium wat talle ouers tans ten opsigte
van ’n onderrigtaal mag huldig. Dit is egter noodsaaklik dat ’n verreikende besluit soos die
keuse van ’n skool – veral vir aanvangsleer – nie bloot op grond van die onderrigtaal gemaak
word nie. Aan die hand van ’n persoonlike taalbiografie word verskeie mites rakende die rol
van taal, kultuur en identiteit in die onderwys krities bekyk.