Abstract:
Die vlaag misdaad waaronder Suid-Afrika tans gebuk gaan, is waarskynlik ongeëwenaard in ons geskiedenis. Ons dagblaaie basuin, vanaf hoofopskrifte tot eenkolomberiggies op die briewekolombladsye, eindelose stringe feite uit oor die allergruwelikste vergrype waaraan die leserspubliek al gewoond geraak het en waardeur hulle ook al so afgestomp is, dat die aakligste detail oor 'n moordgeval soms minder animo ontlok as die uitdaging van 'n matig-moeilike Sudoku. Wat egter nog steeds die aandag trek, is wanneer daar berig word oor polisielede wat hulself aan die verkeerde kant van die reg bevind - waar die spreekwoordelike lang arm van die gereg nie alleen 'n hand het waarvan die vingers veel langer is as wat mens sou verwag nie, maar selfs verder "gevorder" het om rooftogte, moord, verkragtings en verdere ernstige geweldsmisdade op daaglikse grondslag te pleeg (sien bv Beeld (24-05-2010) 2) waarin daar berig word oor die beweerde betrokkenheid van 'n polisievrou by 'n plaasaanval).