Die impak van 'n spelterapeutiese emosionele intelligensie-vaardigheidsprogram op die kleuter binne 'n speelgroep
Loading...
Date
Authors
Journal Title
Journal ISSN
Volume Title
Publisher
University of Pretoria
Abstract
See Abstract in Afrikaans: Die doel van hierdie navorsing is, om te bepaal wat die impak van emosionele intelligensievaardighede is, wat aan kleuters in `n speelgroep met behulp van spelterapeutiese tegnieke oorgedra word. Ten einde hierdie doel te bereik, is `n emosionele intelligensievaardigheidsprogram wat bestaan uit spelterapeutiese tegnieke soos kleiwerk, tekening, musiek, handpoppe en rollespel binne die gestaltbenadering benut. Die kleuters kon hierdeur emosionele intelligensievaardighede aanleer. Tydens die middel kinderjarefase word kleuters gekonfronteer met belangrike emosionele ontwikkelingstake soos die aanpassings in skoolverband, sosiale vaardighede, asook die ontwikkeling van nuwe kommunikasie-vaardighede. Voorbereiding vir hierdie take kan deur die aanbieding van `n emosionele intelligensievaardigheidsprogram tydens speelgroep bywoning, plaasvind. ‘n Kennisbasis is opgebou uit die literatuurstudie aangaande emosies, emosionele intelligensievaardighede met betrekking tot die kleuter in `n speelgroep en spelterapeutiese tegnieke wat benut kan word, asook die meting van emosionele intelligensievaardighede. Emosionele intelligensie bestaan uit verskillende komponente, naamlik persoonlike en interpersoonlike komponente. Persoonlike komponente verwys na aspekte wat te doen het met die kleuter se selfbewussyn en die emosionele bestuur daarvan. Interpersoonlike komponente verwys na aspekte wat te doen het met die kleuter se emosionele verhouding met andere; dus empatie en die bestuur van andere se emosies. Toegepaste navorsing is gebruik om emosionele intelligensievaardighede by die kleuters binne `n speelgroep aan te leer. Die agt voorskoolse kleuters in die speelgroep is as respondente by die studie betrek en het twaalf spelterapeutiese sessie deurloop. Die terapeutiese intervensieprogram wat gevolg is, is die emosionele intelligenisevaardigheidsprogram wat deur Blom (2004:16-48) ontwikkel is vir laerskoolkinders. Dit is aangepas vir kleuters en is tesame met die program en werkboeke (2002) van “Wisechild: foundation for the development of emotional intelligence in children”, in die studie gebruik. Hoewel die program ander emosies insluit, is daar hoofsaaklik aan die emosies van gelukkig, kwaad, bang, hartseer en empatie, asook die bestuur daarvan tydens die sessies aandag aangegee. Spelterapeutiese tegnieke gefundeer vanuit die gestaltbenadering, is gebruik om die empiriese studie te loods. Die navorser het die kwantitatiewe benadering in terme van gestruktureerde waarneming aan die hand van `n selfontwerpte meetinstrument gebruik om die impak van emosionele intelligensievaardighede by die kleuters te meet. Data is ingesamel deur waarneming tydens die intervensiesessies asook deur `n waarnemingsinstrument wat voor en na die intervensie deur beide ouers en die respondente, bygestaan deur die navorser, voltooi is. Aan die einde van die emosionele intelligensie- vaardigheidsprogram kon daar by al agt respondente goed ontwikkelde emosionele intelligensievaardighede soos deur die literatuurstudie omskryf, waargeneem word. Die hipotese is vir hierdie navorsing gestel dat, indien emosionele intelligensie- vaardighede met behulp van spelterapeutiese tegnieke aan `n kleuter in `n speelgroep oorgedra word, die kleuter se emosionele intelligensievaardighede verhoog sal word. Die navorsingsresultate ondersteun hierdie hipotese, beide vanuit die waarnemings tydens die terapeutiese intervensieprogram met die respondente, sowel as deur die resultate van die voor- en natoets wat deur die waarnemingsinstrument versamel is. Die resultate van die studie dui daarop dat kleuters in `n speelgroep se emosionele intelligensievaardighede verhoog kan word deur die gebruik van `n emosionele intelligensie vaardigheidsprogram.</p.
Description
Dissertation (MSD (Play Therapy))--University of Pretoria, 2006.
Keywords
Emosionele intelligensie, Empatie, Emosies, Gelukkig, Kwaad, Bang, Hartseer, Impak, Speelgroep, Selfbewussyn, Spelterapeutiese tegnieke, Gestaltterapie, Kleuter, UCTD
Sustainable Development Goals
Citation
Fourie, B 2006, Die impak van 'n spelterapeutiese emosionele intelligensie-vaardigheidsprogram op die kleuter binne 'n speelgroep (Afrikaans), MSD dissertation, University of Pretoria, Pretoria, viewed yymmdd < http://upetd.up.ac.za/thesis/available/etd-04132007-151818/ >
