Abstract:
Die leerstuk van gemeenskaplike oogmerk is goed gevestig binne die raamwerk van die
substantiewe strafreg in Suid-Afrika. Die leerstuk vind algemeen toepassing waar meer as
een individu saam 'n misdaad pleeg. Die leerstuk het veral toepaslik geword binne die
konteks van materieel omskrewe misdrywe soos moord, waar die element van
oorsaaklikheid moeilik is om te bewys. In sodanige gevalle word die handeling van een
individu aan die ander toegedig deur middel van die aanwending van die leerstuk van
gemeenskaplike oogmerk. Die leerstuk is ook al toegepas met verwysing na misdrywe
soos roof en aanranding. Die vraag of hierdie leerstuk aanwending kan vind binne die
konteks van die misdaad verkragting bly egter problematies. In hierdie aantkening word
die onlangse Konstitusionele Hof uitspraak waar die hof bevind het dat die leerstuk wel
aanwending vind binne die konteks van gemeenregtelike verkragting, krities oorweeg. Die
leerstuk van gemeenskaplike oogmerk word ge-evalueer binne die konteks van die
omskrywingsaard van die misdaad verkragting beide gemeenregtelik en statuter. Ten
slotte word argumente voorgehou ter onsdersteuning van die standpunt dat die leerstuk nie
aanwending kan vind binne die konteks van of gemeenregtelike verkragting, of statutere
verkragting soos dit tans daar uitsien nie.