Abstract:
ʼn Kognitief-semiotiese verkenning van multimodale metafore in Filmverse I en II
Visuele kunstenaars, uitvoerende kunstenaars en literêre kunstenaars inspireer mekaar oor die eeue heen. Hierdie oeroue verbintenis vanweë wedersydse inspirasie kan beskou word as ’n tipe vertaling, transponering en ondersoek na dieper betekenis. Die geanimeerde poësiefilm as ’n vorm van ’n vertaling van die woordteks na ’n beeldteks, kan benader word as ’n hibriede, transdissiplinêre en multimodale kunsvorm wat die poësie en film met mekaar verbind. Die draai van die millennium het ’n toename in die belangstelling in die ondersoek van multimodale kommunikasie met betrekking tot die onderskeie semiotiese modusse teweeggebring. Forceville (2015) is van mening dat animasiefilms ideaal is vir die ondersoek van beeldskemas wat op multimodale metafore betrekking het. Geanimeerde poësiefilms bied ʼn vrugbare ontdekkingsveld onder andere vir die verkenning van multimodale metafore juis omdat ʼn ryk verskeidenheid van betekenisskeppende modusse betrek word. Nie net word verskeie bron- en doeldomeine in verbale taal betrek nie, maar ook diesulke domeine betreffende nieverbale kommunikasie, klanke en musiek vorm onweerlegbaar ʼn komplekse netwerk waardeur betekenis geskep word. Die keuse van die poësiefilm as toepassingsdomein stel in die vooruitsig dat kennis ontwikkel word met betrekking tot multimodale metafore en poog om op grond van ʼn ontleding van multimodale metafore in geselekteerde animasies in Filmverse I (2014) en Filmverse II (2016) ’n model voor te stel vir sodanige ontleding.