Abstract:
Alhoewel die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996 'n verpligting op die
staat plaas om sosio-ekonomiese regte te verwesenlik, blyk dit die algemene persepsie te
wees dat die staat tans versuim om hierdie verpligting behoorlik na te kom. Die persepsie
is dat hierdie versuim toegeskryf kan word aan die feit dat die staat nie die staatsinkomste
(belasting) vir die beoogde doeleindes daarvan benut nie. Dit laat die vraag ontstaan of 'n
belastingbetaler die reg het om belastinggeld te weerhou in opstand teen die staat se
mislukking. Om hierdie vraag te beantwoord is die eerste doel van die artikel. Die tweede
doel is om te bepaal watter regresreg die Suid Afrikaanse Inkomstediens teen 'n belastingbetaler
het wat in opstand teen die staat versuim om verskuldigde belasting te betaal. Die
artikel toon aan dat 'n belastingbetaler geen reg het om verskuldigde belasting te weerhou
in opstand teen die staat se versuim om uiting te gee aan sosio-ekonomiese regte nie. Die
SAID se enorme magte sal 'n ingrypende impak he op 'n belastingbetaler. Die gevolgtrekking
is dat dit nie vir 'n gewone belastingbetaler die moeite werd sal wees om
belastingbetaling te weerhou in opstand teen die staat nie.
Description:
The article is based on a paper presented at the African Tax Research Network Annual Congress on 11 September 2018 at Al Akhawayn University, Ifrane, Morocco.