Abstract:
Elke jaar verdwyn derduisende mense wêreldwyd. Statistiek toon dat talle vermiste
persone steeds spoorloos verdwyn ondanks die feit dat dit in moderne tye makliker is om
mense op te spoor. Verdwynings kan aan talle faktore toegeskryf word. Indien ’n vermiste
persoon se liggaam nie gevind kan word nie skep dit verskeie regsprobleme vir sy of haar
naasbestaandes. Ingevolge die Romeins-Hollandse reg is dit moontlik om by die Hoë Hof
aansoek te doen vir ’n bevel dat ’n persoon geag word “vermoedelik dood” te wees sodat
’n doodsertifikaat uitgereik kan word. Die gemeenregtelike vermoede-van-doodbevel het
egter beperkte aanwending en is gemik op die administrasie van die vermiste persoon se
boedel.
Alhoewel beide die Romeins-Hollandse reg en die Engelse gemenereg (common law)
die Suid-Afrikaanse erfreg beïnvloed het, volg die Suid-Afrikaanse howe die Romeins-
Hollandse reg telkens wanneer daar ’n aansoek dien vir ’n gemeenregtelike vermoedevan-
doodbevel van ’n vermiste persoon. Die uitgangspunt is dat ’n persoon geag word te
lewe en dat daar nie ’n vermoede is dat die persoon dood is na verloop van ’n sekere
tydperk nie. Die “vermoedelike dood” van die verdwene persoon moet deur belanghebbendes
op ’n oorwig van waarskynlikhede bewys word aan die hand van alle relevante
feite. Die tradisioneel Engelse gemeenregtelike jurisdiksies volg egter ’n benadering dat
’n persoon wat langer as sewe jaar vermis word, vermoedelik dood is. Die vermoede bring
mee dat, na verloop van sewe jaar, die bewyslas rus op die persoon wat aanvoer dat die
vermiste nog lewe.
Tans het feitlik alle Europese siviele (civil law) en gemeenregtelike (common law)
jurisdiksies wetgewing wat vermoede-van-doodbevele reguleer. Suid Afrika maak slegs
statutêr voorsiening vir ’n ondersoek na die dood van ’n persoon wat (vermoedelik) aan
onnatuurlike oorsake gesterf het en wie se liggaam nie opgespoor kan word nie. In alle
ander omstandighede geld die gemeenregtelike posisie (Romeins-Hollandse reg).
Hierdie bespreking handel met die gemeenregtelike vermoede-van-doodbevel wat die
uitreiking van ’n doodsertifikaat en administrasie van die boedel van ’n vermiste persoon magtig. Die historiese agtergrond van die vermoede dat “die vermiste persoon lewe” of
dat “die vermiste persoon dood is” (na verloop van ’n tyd) word ondersoek. Die posisie in
Suid-Afrika word vergelyk met statutêre ontwikkelinge in Engeland en Wallis waar die
Presumption of Death Act in 2013 gepromulgeer is. Enkele probleme wat deur naasbestaandes
ondervind word, word aan die hand van die Suid-Afrikaanse reg en die
Engelse gemenereg onder die loep geneem. Ten slotte word oorweging geskenk aan die
vraag of Suid-Afrika regshervorming behoort te oorweeg.