Abstract:
Inter-godsdienstige verhoudinge was nog altyd problematies. Teologie van godsdiens en
teologie van godsdienste is die wyse waarop die Christendom oor die teenwoordigheid en
aard van ander godsdienste besin. Die kerkhervormers het ook ʼn bepaalde verstaan van
die bestaan van en verhouding tussen die Christendom en nie-Christelike godsdienste
gehad. Hierdie bydrae probeer aantoon hoe die kerkhervormers verskil het in hulle
benadering tot ander godsdienste. Martin Luther en Philipp Melanchthon het die
moontlikheid van verhoudinge met ander godsdienste, in besonder Jode en Moslems
voorgestaan, al was dit dan ook net ʼn momentele mening van Luther. Daarmee
verteenwoordig hulle ʼn kategorie van ‘moontlikheid’. Johannes Calvyn was meer
afwysend teenoor die gedagte van moontlikheid van heil binne ander godsdienste en
behoort daarom tot die kategorie van ‘geslotenheid’. Die kerkhervormer Theodore
Bibliander was oop vir gesprek en positief oor verhoudinge met Moslems alhoewel hy nie
gedink het dat heil en verlossing buite die Christendom moontlik is nie. Vir Bibliander
het verhouding met ander begin, met kennis van die ander. Hy verteenwoordig die
kategorie van ‘openheid’. Die kerkhervormers se verstaan van die verhouding met ander
godsdienste lewer ʼn bydrae tot ʼn huidige besinning oor inter-godsdienstige verhoudinge.