Abstract:
Die voortgesette proses van implementering van nuwe materiaal wat gebruik word vir
katkisasie in die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika vertoon ’n besondere trajek.
Die proses het, in terme van geloof, begin met die formalisering van sowel die
geloofsbegrip as die beskrywing van die inhoud van geloof. Dit is voortgesit deur ’n
proses van die objektivering van die inhoud van geloof tot feite wat geleer kan word en is
uiteindelik voltrek deur die implementering van ’n pragmatiese opvoedkundige doelwit
waarin geloof bloot ’n middel tot ’n doel geword het. Die trajek kan kortliks soos volg
beskryf word: • Die Heidelbergse Kategismus: Geloof is die aanneming van die beloftes van God wat
vertroue in die lewende God skep.
• ‘Kortbegrip’: Geloof is sekere kennis van God en sy beloftes en ’n hartlike vertroue dat
al my sondes om Christus ontwil vergewe is.
• Die belydenis van die Hervormers: Ek glo in God beteken dat ek al my vertroue op
God stel en Hom op sy woord neem.
• Geloofsleer: Geloof is kennis van die Woord van God en vertroue in die God van die
Woord.
• Geloof en Lewe 11: Geloof is die toe-eiening van kenbare geloofoorleweringe wat in
die Bybel opgeneem is. Die kerk kan daarom kinders deur ’n proses van kategese
begelei tot geloofsvolwassenheid.
Vandag is die uitgangspunt van katkisasie en die motivering daarvoor in die Nederduitsch
Hervormde Kerk van Afrika die oortuiging dat die kerk kinders deur ’n proses van
kategese tot godsdienstige volwassenheid kan lei.
Van Selms se kategismus pas nie in die trajek wat hier beskryf word nie. Die
Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika sou vandag heeltemal anders gelyk het as meer as een generasie van die lidmate van die Kerk aan hierdie kategeseboek blootgestel was.