Abstract:
Hoewel daar bitter min empiriese inligting beskikbaar is oor die presiese omvang van
mediese wanpraktyke en die daaropvolgende eise, dui die beskikbare inligting daarop dat
die situasie in Suid-Afrika uiters dringend is. Die openbare gesondheidstelsel ly aan ’n
verskeidenheid sistemiese swakhede wat ’n uitwerking op die gehalte van sorg het en is
dus veral vatbaar vir litigasie. Die aansienlike bedrae wat gespandeer word op eise kan nie
bestee word op die verbetering van infrastruktuur en gesondheidsdienste nie. Dit verswak
verder die sorg wat voorsien word en lei weer tot verdere wanpraktyke en nog meer eise.
Die koste van eise in die private sektor het vrywaringversekeringspremies drasties verhoog
en die manier waarop medisyne beoefen word verander. Ongelukkig sal pasiënte
moet worstel met al die gevolge van wanpraktyke en ook die gevolge van toenemende
litigasie. Dit sal moeiliker wees om toegang te verkry tot gesondheidsdienste en gesondheidsorg
kan duurder raak, soos wat die koste van litigasie en versekering oorgedra word
aan die verbruiker. Versoeke om die aanspreeklikheid en vergoedingstelsel te hervorm is
geregverdig, maar sal slegs effektief wees indien die oorsake van wanpraktyke en die
verwante eise behoorlik geïdentifiseer en verstaan word. Dit sou ideaal wees as eise en
kostes voorkom kon word deur wanpraktyke te verminder. Dit sal egter slegs kan gebeur
as die gehalte van sorg verbeter en pasiëntveiligheid bevorder word. Daar moet ondersoek
ingestel word om te bepaal hoe die aanspreeklikheid en vergoedingstelsel aangepas kan
word om ’n meer effektiewe rol te speel in die verband.