Abstract:
Hierdie kort aantekening oorweeg die betekenis van die begrip amptelike taal
soos wat dit in talle grondwetlike en wetgewende bepalings, onder andere in
artikel 6(1) van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996 voorkom.
Die vraag na wat die paslike vertolking van die begrip amptelike taal
behoort te wees, is veral vanweë die volgende drie oorwegings van belang:
Eerstens, ofskoon mens sou dink dat die amptelikheid van
taal noodwendig
impliseer dat die betrokke taal vir wetgewende, uitvoerende en regsprekende
funksies gebruik behoort te word (Currie “Official languages and linguistic
rights” in Woolman et al Constitutional law of South Africa (2005) 65-6), is dit
tradisioneel nie noodwendig die geval nie.
Tweedens is daar egter betekenisvolle nuwe ontwikkeling in internasionale en
buitelandse regspraak, wat in deel 3 hier onder behandel word. In daardie regspraak
word substantiewe betekenis aan amptelike taalstatus verleen. Hierdie
ontwikkeling is ook vir Suid-Afrika belangrik aangesien ons howe ingevolge
artikel 39(1)(b) internasionale reg (volkereg) in ag moet neem en ingevolge
artikel 39(1)(c) van die Grondwet buitelandse reg in ag kan neem, en ter wille
van die navolging van die beste internasionale praktyk, myns insiens in ag
behoort te neem.
Derdens, behoort die pas gepromulgeerde Wet op die Gebruik van Amptelike
Tale 12 van 2012, wat volgens oortuigende kommentaar nie daarin slaag om die
grondslag vir verbeterde veeltaligheid in Suid-Afrika te lê nie (Pretorius “The
use of the Official Languages Act: Diversity affirmed?” 2013 PER 281 305–310),
in die lig van hierdie nuwe ontwikkelinge in buitelandse regspraak oorweeg te
word.