Abstract:
Die mees onderskeidende eienskap van die amptelike taalklousule, soos dit in veral
artikel 6(1) tot 6(4) van die Grondwet vervat is, is die diskresionêre aard daarvan. Hierdie
kwessie word met verwysing na elkeen van die vier tersaaklike subartikels ontleed.
Die besonderse diskresionêre aard van die taalklousule tree eweneens op die voorgrond
wanneer dit met die taalklousules van al die voorafgaande Suid-Afrikaanse
grondwette vanaf die Zuid-Afrikawet tot die tussentydse grondwet van 1993 asook met
tersaaklike buitelandse reg vergelyk word. Die vorige grondwette het nie alleen amptelike
status aan die eertydse twee amptelike tale – Engels en Afrikaans – verleen nie,
maar boonop die daadwerklike gelyke amptelike gebruik van die tale in staatsake
voorgeskryf. Dit het nouliks enige beweegruimte vir ’n diskresie met betrekking tot die
behandeling van die amptelike tale gelaat. Daar kan ook na talle buitelandse regsbedelings
met betrekking tot taal verwys word, wat by wyse van grondwetlike en
gedetailleerde wetgewende bepalings die taalregte van individue en die taalbelange
van gemeenskappe omvattend beskerm. In die onderhawige bespreking word daar
in die besonder na die Kanadese en die Belgiese reg in hierdie verband verwys. In
teenstelling met die eertydse plaaslike bepalings en die tersaaklike buitelandse reg,
word al die tersaaklike subartikels – artikels 6(1) tot 6(4) van die huidige Grondwet –
gekenmerk deur vaag en wyd-geformuleerde bepalings wat die uitwerking het dat ’n
diskresie deur staatsorgane wat met die amptelike tale gemoeid is uitgeoefen word.
Die wyse waarop hierdie diskresie uitgeoefen word, is in die finale instansie bepalend
vir die wyse waarop die amptelike tale behandel word en derhalwe vir wat amptelike
taalstatus in konkrete terme vir elkeen van die amptelike tale beteken, en het oor die
afgelope anderhalf dekade tot grootskaalse amptelike verengelsing gelei. Teen hierdie
agtergrond het ’n omvattende taalwet dringend noodsaaklik geword.