Abstract:
Die Nasionale Kredietwet 34 van 2005 (die NKW of Wet) is op ’n veel wyer reeks
kredietooreenkomste van toepassing as sy voorganger, die Wet op Kredietooreenkomste
75 van 1980, wat net op afbetalingsverkoopsooreenkomste en huurooreenkomste van
toepassing was, en is ook nie soos voormelde wet aan ’n monetêre plafon onderhewig nie.
Die omvattende beskerming wat die NKW bied word verder uitgebrei deurdat artikel
8(4)(f) van die Wet voorsiening maak dat benewens die benoemde krediettransaksies
gelys in artikel 8(4)(a) tot (e) van die Wet, enige ander ooreenkoms, anders as ’n
kredietfasiliteit of kredietwaarborg, waarkragtens betaling van ’n bedrag verskuldig deur
een persoon aan ’n ander uitgestel word en enige heffing, fooi of rente betaalbaar is aan
die kredietverskaffer ten aansien van die ooreenkoms of die bedrag wat uitgestel is, as ’n
krediettransaksie vir doeleindes van die NKW kwalifiseer. In die praktyk gebeur dit
dikwels dat ’n skuldeiser aan wie ’n skuldenaar ’n bedrag geld verskuldig is op grond van
’n bestaande skuld, vanweë die skuldenaar se onvermoë om die skuld te betaal op die
datum soos aanvanklik ooreengekom, die skuldenaar akkommodeer deur ’n standaardskulderkenning
met hom aan te gaan ten einde afbetaling van die skuld in paaiemente en
teen heffing van rente en ander koste te reël. Die doel van hierdie bydrae is om vas te stel
of ’n standaardskulderkenning aangegaan op of na 1 Junie 2007 wel as ’n artikel 8(4)(f)
krediettransaksie kwalifiseer, die gevolge van toepassing van die NKW op sodanige
skulderkenning uit te wys en voorstelle te maak om sodanige skulderkenning buite die
toepassingsgebied van die Wet te plaas.