Abstract:
Hierdie artikel handel hoofsaaklik met die oënskynlik ontwykende begrip
van finansiële hulpverlening deur sentrale banke, in hul hoedanigheid as
leners van die laaste instansie, aan banke. Die grondslag van die funksie,
sowel as die rede vir die gebrek in die algemeen aan openbare inligting
aangaande die funksionering en beskikbaarheid daarvan word bespreek
teen die agtergrond van die besigheid van banke en die finansiële struktuur.
Daar word verwys na wat aangemerk kan word as die klassieke teoretiese
grondslag van sodanige hulp en hoe dit aanklank mag vind in die Republiek
van Suid Afrika. Verder word gekyk na praktiese voorbeelde van
hoe dit toepassing vind in die Verenigde Koningkryk en in die Republiek
van Bulgarye. Praktiese probleme ondervind met die toepassing van die
funksie, streng ooreenkomstig die klassieke teorie, word uitgelig. Daarna
word gepoog om vas te stel of die begrip met duidelikheid omskryf kan
word, en of die omstandighede waaronder dit in die praktyk toepassing
mag vind met sekerheid aangemerk kan word.