Abstract:
Die doel van hierdie artikel is om na te dink oor ’n merkwaardige gebeurtenis waarin spitswetenskap en kuns mekaar ontmoet het: die astroseismologie van Conny Aerts en die komposisie van Willem Boogman. Op die punt van ontmoeting, tussen hierdie andersins uiteenlopende praktyke, is (1) ’n nadenke
oor ritme en ritmering, (2) wat tegnies bemiddel is en oor (3) die verhouding tussen die alledaagse lewenswêreld en die enormiteit van die kosmos wat daardeur getematiseer word. Nadat die agtergrond van hierdie ontmoeting uiteengesit is, word ’n fenomenologiese analise van die komplekse weefsel van lewensritme uitgewerk om aan te toon hoe laasgenoemde deur vertroudheid gevorm word en wat die tegniese aard daarvan is. Daar word betoog dat ’n gelukkende lewenskarakter hiervan afhanklik is. Lewensritme neem egter vorm aan onder druk van sosiale interaksie en van kulturele intervensies. In ’n wêreld wat onder die invloed van Westerse wetenskap staan, word mense se lewensoriëntering meesal gekenmerk deur ’n verlies aan kosmiese lewensoriëntasie. Die vooruitsig dat hierdie verlore band tussen die mens en die kosmos deur wetenskap of kuns (of albei) herwin kan word, word aan kritiese nadenke onderwerp.