Abstract:
Hierdie artikel bevat enkele gedagtes oor die assesseringsmetodes in die
regskliniese programme van die Universiteit van Pretoria en die Universiteit van
die Witwatersrand se regsklinieke. Ten spyte van die toename en uitbreiding
van kliniese regsopleiding deur middel van regsklinieke verbonde aan Regsfakulteite
in Suid Afrika, is daar nog weinig gepubliseer rakende assesseringsmetodes
in regskliniese opleiding. In hierdie artikel word summatiewe assessering
by die Regskliniek van die Universiteit van Pretoria en die Regskliniek van die
Witwatersrandse Universiteit ontleed en vergelyk. Verskille in die struktuur en
organisasie van die klinieke, sowel as in die aard en omvang van die programme
deur hulle aangebied, word aangetoon. Die assesseringsmetodes van
die klinieke word vervolgens vergelyk. Dit sluit in assessering van studenteportefeuljes,
geskrewe toetse en werksopdragte en mondelinge eksamens sowel
as self-, portuurgroep- en kliënte-assessering. Ten slotte word daar gepoog om
die voor- en nadele van die verskillende assesseringsmetodes en -modelle aan
te toon en te verduidelik hoe die assesseringsmetodes deur die struktuur van
die kliniek beïnvloed word.