Abstract:
Hierdie druk van die Akademie se Woordelys en Spelreëls verskil aansienlik van die vorige uitgawes, hoewel die spellingbeleid en grondbeginsels feitlik ongewysig gebly het. So ’n bewering eis al dadelik ’n verduideliking. Ons behandel die verskille kortliks puntsgewyse. (a) Geskrap. ’n Groot aantal woorde en/of woordvorme uit die vorige Woordelys is geskrap, omdat hulle geen spellingmoeilikhede oplewer of behoort op te lewer nie. Ons noem slegs die volgende soorte gevalle:
(1) Eenvoudige, onsamegestelde woorde soos: baan, bane; beer, bere; boer, boere; boom, bome; buur, bure. Die spelling van sulke woorde kan bowendien meestal uit samestellinge wat opgeneem is, afgelei word.
(2) Samestellinge en afleidinge wat geen spellingmoeilikhede oplewer nie. As bantamgewig en bantamhoender bv. aangegee word, is dit stellig oorbodig om bantamhaantjie en bantamhennetjie ook te vermeld. Samestellinge met en sonder verbindingsklanke (veral e en s) eis egter vanweë die vormverskille wel enkele toeligtende voorbeelde soos: boerbeskuit naas boerebeskuit, handdoek teenoor handearbeid, loonraad teenoor loonsverhoging, verjaardag naas verjaarsdag.
(3) ’n Aantal vreemde, veral Franse, woorde is weggelaat, omdat daar in Afrikaans haas geen behoefte daaraan bestaan nie en die skrywer wat hulle moontlik af en toe nodig kry, tog maar die vreemde skryfwyse moet volg. Geleerde benamings (bv. in suiwer Latyn), soos Equus caballus, hoort ewemin in hierdie lys tuis; Ekwide daarenteë wel.
(4) By byvoeglike naamwoorde word die trappe van vergelyking wat geen vorm- en/of spellingmoeilikhede oplewer nie, meestal weggelaat en net die verboë vorme aangegee, of anders word aangedui dat die betrokke word ook onverboë of alleen onverboë gebruik word. In die meeste gevalle is dit ’n saak van grammatika eerder as van spelling.
(5) Wisselvorme is, waar moontlik, verminder en dit sal stellig deur die publiek verwelkom word. Twintig jaar gelede het ons daaromtrent gekonstateer: ,,Die alternatief is om tussen twee of meer vorme te kies, en dit kan alleen min of meer willekeurig geskied” (bl. VIII). Dit was destyds volkome juis, maar voortdurende waarneming van die gesproke sowel as die geskrewe word het ons oortuig dat sommige vorme minder gebruiklik as ander is en dat ons die onnodige weelde van ’n te groot vormverskeidenheid in baie gevalle goed kan ontbeer. Die hiperdeftige boter kan, om slegs ’n enkele voorbeeld te noem, nou sonder nadeel vir botter wyk.
Twintig jaar gelede het ons ook die volgende aanbeveling gedoen: „Waar daar in die geval van vreemde woorde tussen die vreemde en ’n verafrikaanste spelling gekies kan word, daar word in ooreenstemming met die spellingpraktyk van die oorgroot meerderheid van die skrywende publiek die voorkeur aan die verafrikaanste spelvorm gegee” (bl. XV, Opm. 1). Hierdie wenk het soveel byval gevind dat ons tans by talle van woorde die vreemde spelvorme met vrymoedigheid kan weglaat (kyk bv. maar net in die ou lys by woorde wat met au of c begin en vergelyk die paragraaf oor Vreemde Woorde hier onder).