Abstract:
In hierdie studie is ondersoek ingestel na die rol van intergenerasionele geloofsvorming in huis-gefokusde, gemeente-ondersteunde jeugbediening. Hierdie studie het sy oorsprong in die waarneming dat die meeste jeugbedienings steeds ouers en ander volwassenes uitsluit en afsonderlike ouderdomgerigte jeugbediening steeds die primêre manier is waarop kinders, adolessente en jongvolwassenes binne gemeentes bedien word. Dit gebeur alles ten spyte van oortuigende navorsing wat vir die teendeel vra.
Hierdie navorsing gaan uit van die vermoede dat jeugbediening wat huis-gefokusd, gemeente-ondersteund is en intergenerasioneel inklusief funksioneer, beter bydra tot geloofsvorming van kinders, adolessente en jongvolwassenes as huidige jeugbediening.
In hierdie studie is intergenerasionele geloofsvorming binne ’n teologiese raamwerk van gemeentebou (hoofstuk 2) en jeugbediening (hoofstuk 3) benader. Hiermee word die belang van ekklesiologie in jeugbediening beklemtoon. Daar is duidelik gesien dat die jeug integraal deel van die gemeente is en daarom geld alles wat vir die gemeente geld net so vir jeugbediening ook. ‘n Inklusiewe jeugbediening, wat gesinne insluit, vorm daarom die kern van hierdie studie. Net soos in gemeentebou behoort die doelgerigte begeleiding tot identitetsvinding ook die hart van jeugbediening te vorm. Binne die identiteitsvindingsproses sluit God ouers en ander volwassenes in by sy koms na die jeug en deur die jeug na die wêreld. Dit is in hierdie verband dat gekyk is na die rol van ouers en ander volwassenes binne jeugbediening in ‘n veranderende konteks.
Daar is verder ook dieper na geloofsvorming in jeugbediening gekyk. Geloofsvorming, wat uit die onderrigtaak van die kerk ontwikkel het, sluit al die prosesse in wat betrokke is in die vorming van geloof. Daar is gekyk na wat die proses van geloofsvorming in jeugbediening behels en spesifiek wat die rol van die huis (gesin en familie) en die gemeente is (hoofstuk 4).
Die noodsaaklike belang van intergenerasionele interaksie in geloofsvorming, die oordrag van geloofstradisie, die beoefening van bedieninge en die vorming van ‘n familiekultuur (hoofstuk 5) is ook onder die loep geneem. Dit is binne hierdie konteks dat betoog is dat die jeug nie langer geïsoleer mag word van ander generasies nie. Geloofsvorming vind die heel beste binne ’n intergenerasionele konteks plaas.
Dit het die studie by die empiriese navorsing gebring. Daar is eerstens deur middel van kwantitatiewe navorsing (hoofstuk 6) by ouers, wat baie betrokke is in hulle gemeentes, vasgestel watter rol intergenerasionele geloofsvorming in húlle ouerhuis gespeel het en tans in hulle huis en gemeente speel. Tweedens is daar deur kwalitatiewe navorsing (hoofstuk 7) by leraars vasgestel hoe intergenerasionele geloofsvorming in die gemeentes waar hulle bedien, funksioneer, watter positiewe effek dit op vorming en groei van geloof het en watter uitdagings dit stel. In hoofstuk 8 is die interpretatiewe taak onderneem, waar die empiriese navorsing se uitkomste in kernsake en knelpunte geïdentifiseer en bespreek is in die lig van die literatuurstudie.
In die laaste hoofstuk word ’n moontlike jeugbedieningspad gesuggereer wat intergenerasioneel inklusief is en waar die huis as die primêre plek van geloofsvorming erken en ondersteun word.