Abstract:
Die artikel evalueer die Finansiële Sektor Gedragsowerheid en die Nasionale Kredietreguleerder om te bepaal of hierdie reguleerders onafhanklik is wanneer dit by reguleringsonafhanklikheid kom. Alhoewel Suid-Afrikaanse beleidsdokumente en wetgewing die bovermelde reguleerders as onafhanklik bestempel, dui internasionale kenners daarop dat onafhanklikheid 'n belangrike konsep met verskeie fasette is. Een van hierdie fasette is reguleringsonafhanklikheid, wat dui op die vermoë om op 'n selfstandige wyse reëls vir die gereguleerde daar te stel. Die artikel evalueer die Suid-Afrikaanse posisie in die lig van internasionale kenmerke van reguleringsonafhanklikheid. Die navorsing bevind dat die Nasionale Kredietreguleerder nie behoorlik onafhanklik is nie en verskaf voorstelle wat onafhanklikheid kan bevorder.