Abstract:
Sedert die volle implementering van die Wet op Verbruikersbeskerming 68 van 2008 (WVB) het die wye toepassing van die Wet op verskeie soorte transaksies duidelik geword. So 'n wye implementering stem ooreen met die Wet se doel om 'n omvattende wetlike raamwerk vir die bereiking en instandhouding van 'n verbruikersmark te bied wat regverdig, toeganklik, doeltreffend, volhoubaar en verantwoordelik vir verbruikers in die algemeen is (a 3(1)(a)). Daar het tot onlangs onsekerheid geheers oor die toepassing van die WVB in die algemeen maar veral oor die toepassing van artikel 14 op residensiële huurkontrakte. Artikel 14 reguleer die verstryking en hernuwing van vaste termynooreenkomste. Die toepassing van artikel 14 op residensiële huurkontrakte is egter bevestig in Transcend Residential Property Fund Limited v Mati wat hieronder bespreek word. 'n Kritiese evaluering van die regsposisie word ingesluit asook die redes waarom daar sterk teen die toepassing van artikel 14 (saamgelees met regulasie 5) op residensiële huurkontrakte geargumenteer word. Die bespreking eindig met 'n uiteindelike vasstelling of die toepassing van artikel 14 op residensiële huurkontrakte "volhoubaar en verantwoordelik vir verbruikers in die algemeen" is of nie.