Abstract:
Die oogmerk van artikel 21 van die Kinderwet was om die gemenereg so
te ontwikkel dat ten minste betrokke ongetroude vaders ook deur
regswerking as die ouers van hulle biologiese kinders erken kan word by
geboorte. Die wetgewer het egter hierdie proses bemoeilik deur die
dubbelsinnige en onduidelike terme wat in die bepaling gebesig word. Die
groeiende aantal sake waarin die howe genader word vir die opheldering
van die inhoud van artikel 21 is bewys hiervan en kom as geen verrassing
nie. Die artikel gee ’n kritiese oorsig oor hierdie uitsprake wat nog
grotendeels ongerapporteer is. Die mening word gehuldig dat die reg in
terme van artikel 21 nie net ongeregverdig teen ongetroude vaders
diskrimineer op grond van geslag en getroude status nie, maar ook teen
ongetroude moeders en veral die kinders van sulke vaders. Daar word
geargumenteer dat vaders op dieselfde basis as moeders ouerlike status
behoort te verkry bloot op grond van die biologiese band met die kind.
Indien dispute tussen die ouers ontstaan oor die uitoefening van hulle
verantwoordelikhede en regte kan mediasie, ’n ouerskapplan of selfs die
hof genader word om te bepaal wat is in die beste beland van die kind. Tot
tyd en wyl artikel 21 ongrondwetlik verklaar word, sal die hinkende
ouerlike status van ongetroude vaders egter voortduur. Die gevolgtrekking
wat bereik word is dat alhoewel die uitsprake van die howe kan help met
die uitleg van artikel 21, dit nie kan kompenseer vir die onderliggende gebrek aan objektiewe kriteria vir die verkryging van ouerlike
verantwoordelikhede en regte deur ongetroude vaders nie.