Oorlogskuns in Suid-Afrika gedurende die negentiende-en-twintigste eeue : 'n museologiese oorsig

Loading...
Thumbnail Image

Date

Authors

Journal Title

Journal ISSN

Volume Title

Publisher

University of Pretoria

Abstract

Die doel van hierdie skripsie is tweerlei van aard. Eerstens om ‘n historiese oorsig oor die ontstaan en ontwikkeling van oorlogskuns in Suid-Afrika in die negentiende-en twintigste eeue te bied en tweedens om die aspekte van bewaring met betrekking tot kunswerke in die algemeen in museums en galerye en dan meer spesifiek vir die Suid-Afrikaanse Nasionale Museum vir Krysgeskiedenis (SANMKG) aan te beveel. Wat die eerste gedeelte betref is daar veral gesteun op katalogi deur Museums soos die SANMKG, die Oorlogsmuseum van die Boererepubliek COMB) en die Africana Museum Johannesburg, opgestel. Daar is ook gebruik gemaak van Gordon Brown se Pictorial Art in South Africa, Pictorial Africana en Esme Berman se Art and Artiste of South Africa. Waar vindplekke van kunswerke bekend was, is hulle genoem, maar daar is nie gepoog om 'n katalogus van sulke plekke daar te stel nie. Dit is yanselfsprekend dat dit onmoontlik was om alle kunswerke met oorlog as tema in die Suid-Afrikaanse geskiedenis te bespreek en seleksie was dus noodsaaklik. Hoewel daar op ernstige skilder- en tekenkuns in hierdie skripsie gekonsentreer is, is werk wat byvoorbeeld in die soldaat se dagboek voorkom en ook as ernstige werk beskou kan word, uitgesluit. Die estetiese waarde van die werk is miskien nie altyd van hoogstaande gehalte nie, maar hul kultuurhistoriese waarde is wel van onskatbare belang veral waar daar nie ander alternatiewe rekords oor veldslae en selfs oorloë bestaan nie. In hierdie skripsie is slegs aandag geskenk aan, eerstens kunstenaars van buitelandse afkoms wat konflikte in Suid-Afrika vasgelê het en tweedens Suid-Afrikaansgebore kunstenaars wat ook konflikte in die buiteland waar Suid-Afrika betrokke was, op doek vasgelê het. Dit is vanselfsprekend dat eersgenoemde groep tot en met ongeveer die Tweede Wêreldoorlog oorheersend figureer aangesien Suid-Afrika se eerste kunstenaar eers in 1853 gebore is. Dit was William Howard Schroder (1853-1892) wat soms as die eerste plaaslik gebore, vol tydse, professionele kunstenaar beskou word. Schroder wat hoofsaaklik 'n spotprentkunstenaar was, het groot gewildheid as 'Suid-Afrika se eie kunstenaar' verwerf. ‘n Verdere bepalende faktor wat 'n rol by die seleksie gespeel het, was die aard van die kunsvorm. Daar is slegs op tweedimensionele kuns van, soos reeds genoem, ‘n ernstige aard gekonsentreer. Hierdeur word beeldhoukuns en spotprente uitgesluit. Die rede dat die kunsvorme nie bespreek word nie, dui geensins op minderwaardigheid van die kunsvorms nie. So moet spotprentkunstenaars byvoorbeeld aan hoë eise voldoen want naas die boodskap wat spotprente moet oordra, moet hierdie grafiese skepping van hoogstaande kunsgehalte wees, visueel aantreklik en verkieslik sonder opskrifte wees. Die laaste faktor wat in ag geneem is, is datums. Vir praktiese doeleindes is daar slegs op die negentiende- en twintigste eeu gekonsentreer, aangesien hierdie tydperk die aanvang van belangrike konflikte in Suid-Afrika kenmerk. In die tweede afdeling is daar eerstens na die algemene basiese beginsels van bewaring gekyk wat internasionaal van toepassing is. Bronne oor die bewaringsfunksies van 'n museum is uiters volop en met H J Plenderleith se The conservation of antiquities and works of art, M A Thompson se Manual of Curatorship en G Thomson se Museum Environment as basis is die essensie van bewaring uitgelig. Daar is deurentyd in gedagte gehou dat by die toepassing van bewaringsmaatreëls en aankoop van sekere toerusting, kostes so laag as moontlik gehou moet word. Die SANMKG is nie 'n kunsmuseum nie en die kunsversamelings vorm slegs 'n klein gedeelte van die totale aantal versamelings by die museum gevind. Bewaring van die versameling het tot onlangs redelike beperkte aandag geniet. Dit is egter te danke aan generaal-majoor P Pretorius, die direkteur van die Museum, meneer T Bartmann, assistent-direkteur en meneer C Holiday dat die belangrikheid van die versameling se bewaring besef is en dat daar nou defnitiewe stappe in die rigting geneem kan word.

Description

Diploma (Arts)--University of Pretoria, 1989.

Keywords

UCTD

Sustainable Development Goals

Citation

Kruger, C 1989, Oorlogskuns in Suid-Afrika gedurende die negentiende-en-twintigste eeue : 'n museologiese oorsig, Dipl. Arts Dissertation, University of Pretoria, Pretoria, viewed yymmdd <http://hdl.handle.net/2263/58786>