Abstract:
In die onderhawige artikel word die vereiste wat ingevolge die National Credit Act 34 of
2005 (hierna die Kredietwet of die Wet) op sekere kredietgewers geplaas word om as
sodanig by die Nasionale Kredietreguleerder te registreer, in oënskou geneem. Dit word
aan die hand van die doelstellings van die Kredietwet, die beleidsoorwegings onderliggend
aan die registrasievereiste, die geskiktheidsvereistes ten einde as kredietgewer
ingevolge die Wet te kan registreer en die tersaaklike drumpelbepalings ingevolge artikel
40 van die Wet (saamgelees met die regulasies wat die drumpels neerlê) gedoen. Wat die
geskiktheidsvereistes ten einde vir registrasie as kredietgewer ingevolge die Kredietwet te
kwalifiseer aanbetref, word aan die bepalings van die Verenigde Koningryk se Consumer
Credit Act 1974 (soos gewysig) aandag geskenk. Daar word ook van die bepalings, of
gebrek daaraan, in die Europese Unie (waarvan die Verenigde Koninkryk ’n lidland is) se
nuutste direktief insake verbruikerskredietreg melding gemaak. Laastens word na aanleiding
van die bogenoemde en die regspraak wat ten opsigte van die artikel 40-drumpelbepalings
in oorweging geneem is, sekere aanbevelings gemaak.