Abstract:
Verbruikerskredietwetgewing (synde wetgewing wat verbruikers wat goedere
koop of huur, dienste bekom of geld leen ingevolge kredietooreenkoms teen
die kontraktuele en finansiële implikasies van sodanige ooreenkomste beskerm)
in Suid-Afrika (selfs voor Republiekwording) het oor die jare heen formaliteitsvoorskrifte
(ook “vormvereistes” of “formaliteite”) neergelê waaraan kredietooreenkoms
moes voldoen. Dieselfde geld die Wet op Vervreemding van Grond
68 van 1981 (“Wet op Vervreemding van Grond”) en die voorgangers daarvan
wat insgelyks as verbruikerskredietwetgewing kwalifiseer (Diemont en
Aronstam The law of credit agreements and hire-purchase in South Africa
(1982) 365ff; Grové en Otto Basic principles of consumer credit law (2002) 5–6
103ff en Otto en Otto The National Credit Act explained (2013) 3). Die
verbruikerskredietwetgewing wat tans in Suid-Afrika aanwending vind, is die
“National Credit Act” 34 van 2005 (die Nasionale Kredietwet) en die Wet op
Vervreemding van Grond (Otto in Scholtz (red) “Commentary” Guide to the
National Credit Act (2008) (laaste opdatering 2012) par 1.3.4; Renke An
evaluation of debt prevention measures in terms of the National Credit Act 34 of
2005 (LLD-proefskrif UP 2012) 16 327).