Abstract:
In hierdie studie word ondersoek ingestel na die rolspelers in die Afrikaanse literêre sisteem wat
tot kanonisering aanleiding gee. Die literêre sisteem word gekarteer deur die publikasies,
resepsie daarvan en openbare debatte daaroor vir die tydperk 2000–2009 te ondersoek. Daar
word aandag gegee aan die uitgewersbedryf; mediapraktyke; literêre pryse; vertalings;
bloemlesings; literatuurgeskiedenisse; skryfskole; verwerking van literêre werke vir film en die
uitvoerende kunste; die impak wat die sensuurwetgewing op die status van skrywers en die
bedryf gehad het; leeskringe en ’n aantal kleiner rolspelers soos boeksubsidies, biblioteke,
literêre tydskrifte, skrywersverenigings en literêre toerisme. Daar word verder ook aandag gegee
aan die wyse waarop hiërargieë in die sisteem tot stand kom, kanonisering bewerkstellig word,
knelpunte in die magspel tot uiting kom in veral openbare debatte, en die wyse waarop eksterne
faktore op die sisteem inspeel. Die studie wys op die fyn netwerk wat onstaan as verbande
tussen verskillende rolspelers in die literêre sisteem van nader ondersoek word.