Abstract:
Verbruikersbeskerming het fundamentele veranderings ondergaan met die inwerkingtreding
van onder andere die Wet op Verbruikersbeskerming. Die artikel ondersoek die
vraag of die Suid-Afrikaanse verbruikers- en databeskermingsoplossings in die Wet op
Elektroniese Kommunikasies en Transaksies, die Wet op Verbruikersbeskerming en die
voorgestelde Konsepwet op die Beskerming van Persoonlike Inligting voldoende is om
die problematiek rondom “spam” of ongevraagde elektroniese kommunikasies op te los.
Die outeur kom tot die gevolgtrekking dat die bepalings van die Wet op Verbruikersbeskerming
insake direkte bemarking en die voorgestelde Konsepwet verbeterings is
op vorige wetgewende pogings, maar dat dit wil voorkom asof ongevraagde elektroniese
kommunikasies nie holisties aangespreek is nie. Dit het tot gevolg dat die beheer oor
die probleem op gefragmenteerde wyse benader word in bogenoemde statutêre
maatreëls. Die outeur stel voor dat die huidige wetgewende pogings ten minste die
bepalings van die Wet op Verbruikersbeskerming en die voorgestelde Konsepwet met
mekaar moet versoen.