Abstract:
Ofskoon die oop sluise van litigasie in die sfeer van vorderings weens die veroorsaking van suiwer ekonomiese verlies nog nie 'n onbeheerbare stroom eisers op ons reeds oorlaaide howe losgelaat het nie, word daar deesdae opvallend meer sake oor hierdie gebied van die deliktereg gerapporteer as enkele jare gelede. Alhoewel daar nog nie met stelligheid gekonstateer kan word dat iedere geval van veroorsaking van vermoënsnadeel op 'n onregmatige en skuldige wyse die dader aanspreeklik sal stel teenoor die benadeelde nie (wat die sogenaamde "logiese eindontwikkeling" van die actio legis Aquiliae sal uitmaak : vgl bv Van der Merwe en Olivier Die Onregmatige Daad in die Suid-Afrikaanse Reg (1989) 7 227), het ons reg al ver gevorder in hierdie verband, soos blyk uit resente gevalle waar die aanspreeklikheid van 'n verweerder wat nie in eerste instansie die eiser se nadeel veroorsaak het nie, bevestig is onder omstandighede waarin bevind is dat die verweerder op skuldige (nalatige) wyse versuim het om 'n regsplig teenoor die eiser na te kom wat tot gevolg gehad het dat 'n ander op direkte wyse vir die eiser vermoëns- en/of persoonlikheidsnadeel veroorsaak het (sien bv Minister of Safety and Security v Van Duivenboden 2002 6 SA 431 (HH A) waar die staat aanspreeklik gehou is vir die nadeel wat 'n eiser gely het as gevolg van 'n skietwond toegedien deur 'n persoon ten aansien waarvan die staat nalatig versuim het om sy vuurwapenlisensie terug te trek toe daar genoegsame bewyse bestaan het dat daardie persoon nie meer bevoeg was om sodanige wapen te besit nie).