Research Articles (Systematic and Historical Theology)

Permanent URI for this collectionhttp://hdl.handle.net/2263/110706

Browse

Recent Submissions

Now showing 1 - 6 of 6
  • Item
    Die skolastieke bibliologie van Petrus van Mastricht (1630–1706)
    Schlebusch, Jan Adriaan (Litnet, 2025-05-16)
    AFRIKAANS : Hierdie artikel ondersoek die skolastieke bibliologie van die sewentiende-eeuse Nederlandse teoloog, Petrus van Mastricht (1630–1706), met ’n bepaalde fokus op sy beskouing oor die aard, inspirasie en gesag van die 66 boeke van die Protestantse kanon. Ten spyte van die toenemende belangstelling in Van Mastricht se teologie kenmerkend van die afgelope twee dekades, geniet die plek en rol van die Bybel in sy Gereformeerd-skolastieke teologiese sisteem relatief min aandag, veral in vergelyking met sy skolastieke metode, sy Triniteitsleer en sy polemiek teen die rasionalisme van René Descartes. Hierdie studie herwaardeer Van Mastricht se bibliologie binne die konteks van sewentiende-eeuse epistemologiese debatte, waarin hy homself as ’n uitnemende verteenwoordiger van die Dordtse ortodoksie onderskei. Binne die raamwerk van die Gereformeerde skolastiek se polemiek teen die epistemologiese rewolusie wat deur die Cartesianisme bewerkstellig is, ontwikkel Van Mastricht ’n skolastieke bibliologie waarvolgens die Bybel, as onfeilbare Godsopenbaring, ’n deurslaggewende rol speel. Hiervolgens sou die Skrif as ’n gesaghebbende bron aanvaar behoort te word nie net ten opsigte van teologiese sake nie, maar ook oor elke aspek van die werklikheid wat deur die teks aangespreek word, insluitend filosofie en natuurwetenskap. Ten opsigte van sy verwerping van die Thomistiese empirisme gaan Van Mastricht egter verder as sy leermeester Gysbertus Voetius en lewer hy ’n unieke bydrae tot die Gereformeerde epistemologie. Hierdie historiese studie beklemtoon die epistemologie onderliggend aan Van Mastricht se skolastieke bibliologie, waarvolgens die Bybel nie net die finale gesag vir godsdiensbeoefening is nie, maar ook die ware grondslag vir menslike kennis. Dit werp nuwe lig op Van Mastricht se bibliologie as deel van sy skolastieke model, en beklemtoon die unieke bydrae daarvan tot sewentiende-eeuse epistemologiese debatte aangaande die verhouding tussen openbaring, die sintuie en rede.
  • Item
    Gelykheid as rewolusionêre begrip by die ANC en groen van prinsterer : ’n tydige waarskuwing vir vandag?
    Maritz, Paul J.; Schlebusch, Jan Adriaan (Koers Society of South Africa, 2025-07-31)
    AFRIKAANS : Gelykheid is sedert die ontstaan van die ANC ’n kernbegrip in die party se ideologiese raamwerk. Hierdie strewe na gelykheid kom duidelik na vore in verskeie sleuteldokumente, maar die vraag oor hoe die ANC gelykheid teoreties verstaan en in die praktyk toepas, bly kompleks en onvoldoende nagevors. ’n Ondersoek na hierdie bronne dui daarop dat die party gelykheid nie net in die klassieke sin van die woord, as gelykheid voor die reg, verstaan word nie, maar eerder as ’n rewolusionêre gelykheid wat beslag moet vind op sosio-ekonomiese gebied. Die ANC se konsep van gelykheid moet geplaas word binne ’n breër historiese debat oor die aard van gelykheid, wat sy oorsprong in die Verligting het. Hierdie rewolusionêre idee, met wortels in die denke van Jean-Jacques Rousseau en Karl Marx, is in diepte bekritiseer deur die Nederlandse staatsman Guillaume Groen van Prinsterer. Hy het gewaarsku dat hierdie soort gelykheid samelewingsverbande kan ondermyn, sosiale samehorigheid kan skade doen en eiendomsregte kan skend. Hierdie kritiek beklemtoon die belangrikheid daarvan om af te sien van ’n ideologiese raamwerk wat teenproduktief op samelewings inwerk, ten einde burgerlike vryhede en sosiale vooruitgang te beskerm – ook in Suid-Afrika se hedendaagse politieke konteks.
  • Item
    Abrahamitiese eskatologie en die bekragtiging van godsdienstige identiteite
    Schlebusch, Jan Adriaan (LitNet, 2024)
    Eskatologiese narratiewe, veral gegewe hul kenmerkende apokaliptiese fokus, dien as kragtige retoriese instrumente om godsdiensgemeenskappe te mobiliseer, veral in krisistye. Hierdie studie beklemtoon die rol wat eskatologiese narratiewe in die monoteïstiese Abrahamitiese godsdienstige tradisies speel met betrekking tot die vorming, bekragtiging en handhawing van godsdienstige identiteit te midde van sosiogodsdienstige veranderings en uitdagings. Daar word in hierdie verband gekyk na drie Abrahamitiese kanonieke tekste: Daniël 2:37–45 uit die Hebreeuse kanon, Openbaring 14 uit die Nuwe Testament, en Soera 81 uit die Koran. By wyse van David Carr se fenomenologies-narratiewe benadering word die retoriese waarde van hierdie eskatologiese narratiewe geanaliseer met betrekking tot die manier waarop hulle gelowiges oproep tot aktiewe deelname in die een goddelike plan en die uiteindelike vervulling daarvan. In Daniël 2:37–45 word die opkoms en val van wêreldryke beskryf, wat die geloofsgemeenskap herinner aan die verbygaande aard van menslike mag en die uiteindelike koms van die ewige koninkryk van God. Openbaring 14 bied aan die vroeë Christelike gemeenskap ’n visie van kosmiese verlossing en oordeel, wat hierdie gemeenskap versterk tot volharding in hul geloof. Soera 81 in die Koran gebruik dramatiese apokaliptiese beelde om lesers te konfronteer met die onafwendbare koms van die oordeel van die eindtyd, waardeur die Islamitiese geloofsgemeenskap aangespoor word tot gehoorsaamheid aan Allah. Die studie toon hoe hierdie eskatologiese narratiewe nie net uitdagings van ’n bepaalde historiese konteks aanroer nie, maar ook ’n blywende retoriese impak op gelowiges het deur ’n gemeenskaplike toekomsvisie te bied wat godsdiensgemeenskappe oor geslagte heen saambind. By wyse van hul unieke kognitiewe appèl, help hierdie narratiewe om ’n kollektiewe godsdienstige identiteit te bekragtig en te versterk. Veral die monoteïstiese klem op die goddelike voorsienigheid en belofte van eskatologiese verlossing kenmerkend van hierdie narratiewe bied hoop en rigting aan Abrahamitiese godsdiensgemeenskappe en verbind hul tot ’n gemeenskaplike missie.
  • Item
    Geskiedenis, natuur en algemene openbaring in die Christelik-historiese denke van Groen van Prinsterer
    Schlebusch, Jan Adriaan (LitNet, 2023-06)
    Groen van Prinsterer (1801–1876) se Christelik-historiese beskouing is gekenmerk deur ’n tweeledige waardering vir die Godsopenbaring soos dit neerslag vind in die Skrif aan die een kant en in die geskiedenis aan die ander kant. Gegewe die feit dat sy openbaringsleer beduidend begrond is deur die Gereformeerde belydenisskrifte, beoog hierdie artikel om vir die eerste keer sy beskouing van die rol en aard van algemene openbaring – soos beskryf in artikel 2 van die Nederlandse Geloofsbelydenis – te ondersoek en in verband te bring met sy Christelikhistorisme. In navolging van veral die Réveil sowel as die Historische Rechtsschule van Friedrich Carl von Savigny (1779–1861) verwerp hy die idee van ’n normatiewe natuurreg en beskou hy daarteenoor die goddelike openbaring as te vinde in die besondere openbaring van die Bybel, sowel as in die geskiedenis as algemene openbaring. Hierdie historiese algemene openbaring behoort volgens Groen egter beskou te word in die lig van die besondere openbaring, en met name spesifiek die openbaring van Jesus Christus se verlossingswerk en die verheerliking van Sy heerskappy as die oorhoofse doel van die wêreldgeskiedenis. Alhoewel Groen nie die rede of sintuie as middels tot die verkryging van kennis as sodanig verwerp nie, verwerp hy wel die idee dat die mens by wyse van waarnemings of rasionele konstruksies, los van die verligting van die goddelike openbaring, kernwaarhede aangaande die werklikheid kan bekom. In hierdie opsig was sy beskouing van die algemene openbaring beduidend anders as dié van sy Neo-Calvinistiese opvolgers Abraham Kuyper (1837–1920) en Herman Bavinck (1854–1921).
  • Item
    Anti-revolutionary epistemology : Philippus Jacobus Hoedemaker’s philosophy of revelation
    Schlebusch, Jan Adriaan (Africa Journals, 2022)
    The prominent Anti-Revolutionary philosopher and theologian, Philippus Jacobus Hoedemaker (1839–1910) operated in the Dutch politico-ecclesiastical scene. He achieved renown primarily because of his dispute with Abraham Kuyper over the role of common grace and the political implications of Kuyper’s doctrine. In contradistinction to Neo-Calvinists such as Kuyper and Herman Bavinck, Hoedemaker proposed a distinct philosophy of revelation, emphasising the inescapabilty and holistic nature thereof as foundational to all human knowledge. Hoedemaker’s epistemology, consciously theorized and articulated in reaction to the empiricism and rationalism of the Enlightenment, emphasises that all realities and facts are inescapably revealed realities, which are mediated by divine revelation in Scripture as well as history which he understands to be essentially the manifestation of divine providence, given that he holds God to be the ultimate First Cause behind everything in existence. For Hoedemaker, every fact in the universe is therefore completely dependent upon God and his revelation for its very existence. Hoedemaker’s distinct epistemology also has significant socio-political implications, most notably the utter impossibility of neutrality in the public domain. Since for Hoedemaker, there exists no natural, unmediated or unrevealed knowledge in all of the universe, it is only Christianity that can bring about true socio-cultural and socio-political progress, while all other worldviews only maintain themselves inasmuch as they borrow capital from the Christian worldview ultimately rooted in Christian epistemology.
  • Item
    Epistemologiese oorwegings by die Neo-Calvinistiese afwysing van die teokratiese inslag van artikel 36 van die Nederlandse Geloofsbelydenis
    Schlebusch, Jan Adriaan (LitNet, 2022)
    Die wysiging van artikel 36 van die Nederlandse Geloofsbelydenis aan die begin van die twintigste eeu onder leiding van die Neo-Calvinistiese teoloë Abraham Kuyper en Herman Bavinck geniet wydverspreide waardering binne die Gereformeerde tradisie. Neo-Calviniste het daarin geslaag om die 1905-Sinode van die Gereformeerde Kerken in Nederland te oortuig om die omstrede frase aangaande die owerheid se plig “om te weer en uit te roei alle afgodery en valse godsdiens, [en] om die ryk van die Antichris te gronde te rig” uit hierdie artikel te verwyder. Kerke van Gereformeerde belydenis in beide die VSA en Suid-Afrika het gevolglik ook in dieselfde gees wysigings aan hierdie artikel aangebring. Binne die bestaande literatuur word klem gelê op die Neo-Calvinistiese hermeneutiese raamwerk as bekragtiging van hierdie afwysing van die teokratiese inslag van artikel 36 van die Nederlandse Geloofsbelydenis. Hierdie bydrae beklemtoon egter dat bestaande interpretasies in hierdie verband onvoldoende is, en bevraagteken veral die neiging om die leer van Twee-Koninkryke aan Bavinck of Kuyper toe te skryf. Aangesien beide enige skeiding tussen gesag in die kerklike en politieke lewe ten sterkste afwys, bepleit hierdie artikel ’n hernude waardering van Kuyper en Bavinck se epistemologie as deurslaggewend vir hul afwysing van die teokrasie. Aan die hand van die primêre bronne, word die Neo-Calvinistiese kennisleer, en met name dan die belangrike onderskeid tussen “geloofskennis” en “natuurlike kennis”, beklemtoon as die raamwerk waarbinne die noodsaak van pluralisme in die openbare sfeer deur Kuyper en Bavinck benadruk is. Eersgenoemde word normatief geag vir die kerklike en persoonlike lewe van die gelowige, terwyl laasgenoemde, bemiddel deur die algemene genade, beklemtoon word as normatief vir die openbare lewe asook beide gelowiges en ongelowiges se deelname daaraan. Nogtans word die leer aangaande die heerskappy van Christus oor elke faset van die lewe, ook die sosiopolitieke sfeer, deurgaans gehandhaaf.