Abstract:
Kenia is ’n land wat al op verskeie terreine vele bekendes opgelewer het. Hulle is veral welbekend vir die wêreldklas middel en
langafstandatlete wat hulle oplewer. Dit sou daarom nie vreemd wees nie, indien bemarkers sou poog om die gelykenisse van bekende persone
te gebruik in hulle bemarkingsveldtogte. Dit sou egter nie ’n Olimpiese atleet of ander beroemde persoon wees wat sou poog om die reg op
identiteit in hierdie verband te beskerm nie. Inteendeel, dit sou ’n nederige motorfietsafleweringsbestuurder wees wat ’n finansiële instelling tot
orde sou roep omdat hulle sonder toestemming sy foto in hulle bemarkingsmateriaal gebruik het.
Alhoewel die Keniaanse deliktereg gegrond is op die Engelse law of torts, vermy die hof in die Rafiki saak die enge benadering van die Engelse
howe, waarvolgens die ongemagtigde gebruik van iemand se beeld vir bemarking slegs ’n eisoorsaak daarstel indien dit sou neerkom op
aanklamping. Die Keniaanse hof wend hom veel eerder tot die SuidAfrikaanse reg en steun vir gesag op die uitsprake van die SuidAfrikaanse
howe in Grütter v Lombard (2007 (4) SA 89 (HHA)) en W v Atoll Media (Pty) Ltd (2010 4 All SA 548 (WKK)).
Die hof in die Rafikisaak beslis dat die ongemagtigde gebruik van sy foto ’n skending is van sy reg op privaatheid, soos vervat in artikel 31 van
die Grondwet van die Republiek van Kenia. Voorts bevind die hof, met verwysing na die uitspraak van die SuidAfrikaanse konstitusionele hof in
MM v MN (2013 (4) SA 415 (KH)), dat die ongemagtigde gebruik van sy foto ook ’n skending is van sy reg op menswaardigheid soos vervat in
artikel 28 van die Keniaanse grondwet.
Op hierdie wyse ontwikkel howe in Afrikalande pragmatiese oplossings wat die individu teen uitbuiting beskerm. Die beginsels wat aldus
neergelê word, vergelyk goed met die omvattende beskerming wat in verskeie Amerikaanse deelstate teen ongemagtigde gebruik van iemand
se beeld in bemarkingsmateriaal verleen word.