Abstract:
In talige kommunikasie moet die spreker homself duidelik, effektief en binne 'n aanvaarbare tydsbestek kan uitdruk. Die luisteraar, aan die ander kant, moet in staat wees om die boodskap behoorlik te dekodeer. Dit spreek vanself dat die beperkinge van spreker en luisteraar 'n wesenlike invloed op talige kommunikasie het: produksie en persepsie van taal is van kardinale belang in effektiewe kommunikasie. Omdat taal dus wesenlik 'n vorm van interpersoonlike gedrag is, is die newe-effek van 'n kommunikasieafwyking soos hakkel omvangryk. Hakkel moet gesien word as 'n kommunikasieafwyking omdat daar nie net sprake is van ' n gebrekkige vermoë ten opsigte van spraakproduksie nie: daar is tewens meer as net die oppervlakkige klankaspek ter sake. Ander aspekte wat 'n rol speel in interpersoonlike gedrag, is veral by die hakkelaar van groot belang, bv. problematiek ten opsigte van die psigologiese en sosiale sake. In die lig van die eiesoortige kommunikasieprobleme van die hakkelaar moet onderwysers, en veral taalonderwysers, gepaste aandag aan die hakkelaar in die klaskamer gee. Die taalonderwyser poog om 'n bepaalde taalbeheersing by sy leerlinge te bewerkstellig, maar nou moet mens in gedagte hou dat dit juis op die vlak van effektiewe produksie is waar die hakkelaar te kort skiet. Alhoewel die spraakproduksie van die hakkelaar gebrekkig is, beteken dit gter nie noodwendig dat sy taalvermoë in dieselfde mate gebrekkig is nie. Voordat die problematiek van die hakkelaar in die klaskamer aan die orde gestel kan word, moet die verskynsel as kommunikasieafwyking eers in perspektief geplaas word.