Abstract:
Daar word dikwels beweer dat Afrikaanse mense nie meer van idiome (en ander vaste uitdrukkings) in hul skryf- en spreektaal gebruik maak nie. Hierdie studie poog om hierdie bewering te ondersoek deur vas te stel wat die gebruiksfrekwensie van ʼn aantal nuwe Afrikaanse vaste uitdrukkings is. Die nuwe vaste uitdrukkings wat ondersoek is, is afkomstig uit inskrywings wat in 2016 en 2017 voorgelê is vir die Virtuele instituut vir Afrikaans (VivA) se Varsgebek-kompetisie. Daar is ook ondersoek ingestel na die semantiese velde waarin hierdie nuwe vaste uitdrukkings aangetref word in ʼn poging om vas te stel of Afrikaanssprekers in 2024 ander semantiese velde gebruik wanneer uitdrukkings geskep word as wat in die verlede, circa 2000, die geval was. Alvorens daar op die nuwe uitdrukkings gefokus kon word, is daar eers ʼn terminologietaksonomie opgestel om (a) die vaste uitdrukkings in die Varsgebek-data te identifiseer, en (b) die geïdentifiseerde uitdrukkings verder in subkategorieë te kon klassifiseer.
Die studie bevind eerstens dat daar baie terminologiese verwarring in die literatuur oor vaste uitdrukkings bestaan en daar word stelle kriteria gepostuleer waarmee daar tussen verskillende tipes vaste uitdrukkings onderskei kan word. Daarna word die Varsgebek-data geanaliseer en daar word bevind dat 33 uitdrukkings meer as een keer (en dus met ʼn relatief hoë frekwensie) in twee Afrikaanse korpora, naamlik VivA se Korpuspotaal: Omvattend en Korpusportaal: Eksklusief voorkom. Die semantiese velde waarin hierdie 33 uitdrukkings aangetref word, word geïdentifiseer en daar word bevind dat hierdie nuwe uitdrukkings behoort tot semantiese velde wat al in die verlede geïdentifiseer is as die semantiese velde waaruit gevestigde Afrikaanse uitdrukkings kom. Dit blyk dus dat daar, ten minste wat die Varsgebek-data betref, van dieselfde semantiese velde as in die verlede gebruik gemaak word wanneer nuwe Afrikaanse uitdrukkings geskep word.