Abstract:
Poësie-analise speel ’n noodsaaklike rol in die bevordering van kritiese denke, literêre waardering en taalvaardighede onder leerders. Hierdie studie stel ’n innoverende multimodale onderrigbenadering voor, wat tradisionele teksanalise van gedigte en multimodale edusemiotiese analise van geanimeerde poësiefilms kombineer met die doel om ’n metodologiese raamwerk voor te stel, waardeur poësiebegrippe en -elemente saam met die visuele en klankelemente in geanimeerde poësiefilms omvattend toegelig kan word.
Tradisionele teksanalise behels close reading, taalkundige ondersoek, en tematiese verkenning om poësiebegrippe te identifiseer, te bespreek en toe te pas. Gekombineer met ’n multimodale edusemiotiese analise van die semiotiese tekens en kodes teenwoordig in die geanimeerde poësiefilms, ontstaan nuwe perspektiewe wat die interpretasie van poësie verryk. Voorts versterk die voorgestelde geïntegreerde benadering, soos voorgeskryf deur die KABV, die holistiese begrip van poësieterminologie en -elemente, asook komplekse taalkundige en visuele patrone wat visuele geletterdheid, verfynde data-interpretasievaardighede, en leerderbetrokkenheid in die poësieklas bevorder.
Hierdie studie beoog om ’n bydrae te lewer tot die bestaande Afrikaanse poësiekurrikulum en taalonderwysers toe te rus om poësiewaardering, kritiese denke en kreatiwiteit by leerders in die voortdurend veranderende landskap van onderwys aan te spoor.