Abstract:
Die Changana-Tsonga van Mhaladistrik kan op grond van
hulle geskiedenis en etniese skakeling as 'n mikrokosmos
van die inwoners van Gazankulu beskou word.
Die administratiefreg het die bestaan en funksionering
van 'n sentrale stamgesag ('n kaptein-in-rade), verskillende
gewestelike gesagsfigure (wykshoofde-in-rade) en 'n verskeidenheid sosio-politiese gesagsfigure by elke stam blootgele. Die kaptein beklee sy posisie op grond van sy hooggeborenheid en delegeer gesag aan die wykshoofde terwyl .die
reg van gesagsuitoefening binne elke sosio-politiese eenheid
by die senior manlike lid daarvan, berus.
Uit die beskrywing van die prosesreg is dit duidelik dat die
regspraak telkens 'n funksie van die gesagsfigure in elke
starn is. Die jurisdiksie van die howe verskil van mekaar.
Die verrigtinge van die kapteins- en wykshof geskied in die
openbaar; die van die familiehowe vind in die geheim plaas.
Die,prosedure in al hierdie howe is dieselfde en daar bestaan
'n deurlopende appelmoontlikheid vanaf die laagste na die
hoogstc hof in elke stam. In die farniliereg val die klern op huweliksluiting, die
gevolge van huweliksluiting en die ontbinding van die
huwelik en die voortsetting daarvan na sterfte. Huwclik=
sluiting geskied deur die sluiting van 'n besondere soort
kontrak, die lewering van trougoedere en die oordrag van
die bruid. Die vaders van die bruid en die bruidegorn tree
as verteenwoordigers van hulle afkornsgroepe op.
Huweliksluiting lei tot die ontstaan van 'n kerngesin of
'n poliginiese gesinne-eenheid waarbinne man en vrou weder=
sydse verpligtinge teenoor rnekaar rnoet nakorn. Daar bestaan
ook wedersydse versorgingsverpligtinge tussen ouers en kin=
ders. Die vader aanvaar aanspreeklikheid vir die onregrnatige
dade van sy vrou(ens) en ongetroude kinders.
Kinders wat binne die huwelik gebore word, word as wettige
kinders beskou. Verskillende soorte buite-egtelike kinders
kan per ooreenkoms gewettig word.
Egskeiding geskied hoofsaaklik wanneer man of vrou hulle
verpligtinge nalaat en word eers van krag as dit deur 'n
familiehof beveel word. Die afsterwe van man of vrou be•
eindig nie die huwelik nie. Dit kan deur die leviraat
of sororale aanvulling voortgesit word.
Binne die erf- en opvolgingsreg kan goedere sowel as status
vererf. Kapteinskap, liniehoofskap en huishoofskap is die
belangrikste openbare statusposisies waarin opgevolg kan
word. Goedere kan per "testament" sowel as intestaat vererf.
Onterwing is moontlik. Elke boedel word ooreenkornstig 'n
geykte prosedure gelikwideer en beredder.
Waar die gemenereg se vernaamste uitgangspunt 'n studie is
van die individu se status en bevoegdhede in die reg moet
in die inheemse reg uitgegaan word van die individu binne
groepsverband.