Abstract:
Een van die grootste hindernisse wat toegang tot die reg in siviele sake, soos gewaarborg in artikel 34 van die Suid-Afrikaanse grondwet,
belemmer, is die toekenning van astronomiese regskoste aan die einde van 'n regsgeding. Daar is twee fundamentele reëls wat van toepassing
is wanneer 'n hof 'n kostebevel toestaan aan die einde van regsverrigtinge in Suid-Afrika. Die eerste basiese reël bepaal dat die toekenning van
regskoste in die diskresie van die hof is. Die tweede algemene reël bepaal dat koste die uitkoms volg, met ander woorde, koste word toegeken
aan die suksesvolle party (die sogenaamde Engelse model).
Daar kan slegs van hierdie algemene reël afgewyk word waar daar goeie gronde of spesiale omstandighede teenwoordig is wat die toekenning
van 'n alternatiewe kostebevel regverdig. Hierdie wye diskresie gee egter aanleiding tot sekere problematiese aspekte in gevalle waar beide
partye 'n sekere mate van sukses behaal. In hierdie artikel word die reël dat koste in die algemeen die uitkoms volg in die afwesigheid van
spesiale omstandighede, krities bespreek. Daar word aangevoer dat, alhoewel die toekenning van koste in die algehele diskresie van die
voorsittende beampte is, die algemene reël dat koste die uitkoms volg, in die meeste gevalle slaafs nagevolg word, selfs waar daar 'n werklike
dispuut tussen die partye bestaan.
Daar word aangetoon dat daar verskillende benaderings deur ons howe gevolg word by die toekenning van kostebevele wat regsonsekerheid
tot gevolg het en wat dit moeilik maak vir 'n party om te besluit of dit die moeite werd is om regsverrigtinge in te stel of te verdedig. Daar
word derhalwe aanbeveel dat die algemene reël behou moet word, maar dat die howe se diskresie vernou moet word en dat sekere
voorafbepaalde faktore in aanmerking geneem moet word by die toekenning van 'n kostebevel, wat billik is teenoor al die partye.
Die algemene reël behoort ook gewysig te word om voorsiening te maak vir die verdeling van regskoste waar beide partye 'n mate van sukses
behaal het tydens die verhoor. Die regsposisie in België, Duitsland, Nederland en Engeland en Wallis word krities bespreek en daar word
aanbeveel dat sekere bepalings van hierdie buitelandse regstelsels met vrug in Suid-Afrika geïmplementeer kan word.