Abstract:
Groepe vorm oral in die samelewing. Sommige word doelbewus gegenereer. Ander ontstaan spontaan. Die uitgangspunt van hierdie studie is dat kleingroepe ’n kardinale deel van gemeentes en geloofsgemeenskappe kan uitmaak en dat individue deur middel van die groepe die steun van ’n gemeenskap kan ervaar. Hierdie studie ondersoek hoe formele en informele groepe met behulp van die deel van narratiewe kan bydra tot die pastorale versorging van mense.
Groepe en groepsdinkamika word onder andere ondersoek in die sosiale wetenskappe en sosiale psigologie. Die insigte en teorie van Donelson Forsyth (2014) ten opsigte van groepvorming word benut om aan te dui hoe formele en informele groepe vorm. David Johnson en Frank Johnson (2003) se beskrywing van groepe word ook vir die doel aangewend omdat dit spesifieke aspekte van groepvorming belig. Hierdie teorie fokus onder meer op die effektiwe funksionering van groepe asook die verskillende kommunkasienetwerke in groepe. Met behulp van hierdie teorieë toon die studie aan dat betrokkenheid by ’n ondersteuningsgroep kan bydra tot mense se welsyn.
Pastorale sorg het ten doel om mense te begelei tot heling, genesing, heelheid en hoop. So word hulle bemagtig om aktief in die geloofsgemeenskap by te dra tot onderlinge sorg. Julian Müller (2000) se reisgeselskap-model word benut om aan te toon wat in formele groepe of een-tot-een pastorale sorg gesprekke plaasvind. Pastorale sorg is nie net die pastor se taak nie. Onderlinge sorg is die taak van die hele geloofsgemeenskap. Maria Maritnez (2018) se narratologiese model met die naam Storyworld Possible Selves word in die studie benut om die kompleksiteit van die betrokkenheid by ander se verhale te verduidelik. Formele en informele groepe is ’n onvermydelike deel van geloofsgemeenskappe en kerkwees. Met behulp van Charles Gerkin (1997) se pastoraatteorie word die verwagting van pastorale sorg ondersoek. Sy driedeling van ‘n gemeenskap van ondersoek, ‘n gemeenskap van onderlinge sorg en ‘n gemeenskap van gestuurdes is vir die werk van kleingroepe en onderlinge sorg in ’n gemeentelike konteks relevant. Mense kan pastoraal versorg word in formele en informele groepe ervaar. Hulle kan dit toepas in hulle eie lewe en positiewe verandering te weeg bring as hulle mekaar pastoraal versorg.