Abstract:
Die Maatskappywet 71 van 2008 (die "Wet") het 'n innoverende en unieke remedie
daargestel wat dit moontlik maak om persone wat direkteure van maatskappye is, of was,
as misdadige direkteure te verklaar, of onder 'n proeftyd te plaas. Sodra 'n persoon as
misdadige direkteur verklaar word, of onder 'n proeftyd geplaas word, word sodanige
persoon se bevoegdheid om as direkteur van 'n maatskappy te dien, beperk. Hierdie
bespreking fokus op die remedie waarvoor artikel 162 van die Wet voorsiening maak.
Artikel 162 verleen toestemming aan verskeie partye, onder andere die maatskappy,
direkteure, aandeelhouers, werknemers, en reguleringsinstansies (soos die Kommissie vir
Maatskappye en Intellektuele Eiendom en die Oornamereguleringspaneel) om die hof te
nader ten einde direkteure wat die pad byster geraak het as misdadige direkteure te
verklaar. 'n Bykomende "laag" verantwoordbaarheid is gevolglik op direkteure van
toepassing. Organization Undoing Tax Abuse v Duduzile Cynthia Myeni 2020 3 All SA
578 (GP) is een van die eerste gerapporteerde uitsprake waarin 'n direkteur van 'n
staatsonderneming as 'n misdadige direkteur verklaar is. Hierdie uitspraak is dus van
noemenswaardige openbare belang. Die aansoek, wat deur die Organisation Undoing Tax
Abuse en South African Airways Pilots Association geloods is, is 'n belangrike stap om
die publiek teen misdadige direkteure van maatskappye in staatsbesit te beskerm. 'n
Verklaring van hierdie aard beinvloed egter die status van persone wat as misdadig
verklaar word, waarna 'n mate van statutere inperking intree. Sodanige beperkings is
soortgelyk aan did wat in die volgende gevalle toepassing vind: (a) minderjarigheid; (b) 'n
verklaring van kranksinnigheid; (c) insolvensie; of (d) skuldigbevindings aan kriminele
optrede. Gegewe die erns van 'n bevel wat 'n persoon as 'n misdadige direkteur verklaar,
word die hof se toepassing van artikel 162(5)(c) krities ontleed.