Abstract:
In hierdie bydrae word geestesgestremdheid in die konteks van seksuele misdrywe
oorweeg. Die Wysigingswet op die Strafreg (Seksuele Misdrywe en Verwante Aangeleenthede)
32 van 2007 ("SMW") het op 16 Desember 2007 in werking getree. Die
SMW maak vir 'n uitgebreide omskrywing van "geestesgestremdheid" voorsiening en
bevat ook bepalings rakende die afwesigheid van toestemming. Artikel 57(2) van die
SMW bepaal dat, sodra dit vasstaan dat 'n klaer of klaagster ten tyde van die pleeg van 'n
seksuele handeling 'n persoon met 'n geestesgestremdheid was, geen toestemming
regsgeldig erken sal word nie. In hierdie bydrae word oorweging geskenk aan geestesgestremdheid
binne die raamwerk van die SMW, saamgelees met die bepalings rakende
afwesigheid van toestemming. Dit word aangedui dat artikel 57(2) oorbodig is en dat
afwesigheid van toestemming een van die omskrywingselemente van die misdrywe
beslaan. Dit moet dus steeds deur die staat bo redelike twyfel bewys word. Alternatiewe
benaderings word ook toegelig. Die feit dat deskundige getuienis van onskatbare waarde
vir die staat en die verdediging is, ten einde geestesgestremdheid te bewys of te weerle,
word laastens aangedui.