Abstract:
Die oogmerk van artikel 22 van die Kinderwet 38 van 2005 was om die verkryging van
ouerlike verantwoordelikhede en regte te vergemaklik waar die moeder of ander houer
van ouerlike verantwoordelikhede en regte instem om dit met die artikel 21-vader of
belanghebbende derde party te deel. Die doel van hierdie artikel is om vas te stel in watter
mate 'n ooreenkoms ingevolge artikel 22 oor ouerlike verantwoordelikheid en regte
gebruik kan word as 'n meganisme om die regte van 'n bestaande ouer te omseil wanneer
sodanige verantwoordelikheid en regte aan 'n belanghebbende derde party oorgedra word.
Die antwoord op hierdie vraag hang grotendeels daarvan af of artikel 22 eng of wyd
geinterpreteer word. Die gebruik van die voegwoord "of' tussen die verskillende kategoriee
van persone wat baat kan vind by die ooreenkoms maak beide interpretasies
moontlik. Die Kinderwet verskaf ook geen klarigheid oor die bedoelde interpretasie nie en
by publikasie van die artikel is daar ook geen relevante regspraak hieroor nie. Die artikel
begin met 'n ondersoek na die wetgewer se beoogde doel met die insluiting van artikel 22
in die Kinderwet en gaan dan voort om die impak van 'n eng en wye interpretasie van die
bepaling op die belange van die kind en ouer te ondersoek. Daar word vlugtig na die
Engelse Kinderwet verwys om vas te stel hoe did jurisdiksie kinders en ouers se regte
beskerm onder soortgelyke omstandighede. Met verwysing na die daargestelde beskermingsmeganismes
in die Engelse Kinderwet, identifiseer die artikel die leemtes in artikel 22 wat
ontstaan uit die wye interpretasie en maak voorstelle om die moontlike nadele wat uit so
n interpretasie kan volg, aan te spreek.
Description:
This article is an adaptation of Maritza Breytenbach Parental responsibilities and rights
agreements: An impact study of section 22 of the Children's Act 38 of 2005 (LLM dissertation,
University of Pretoria 2019), under the supervision of Professor Anne Louw.