Abstract:
Voorverhoorpublisiteit rakende 'n hangende strafsaak, welke publisiteit in die vorm van of mediadekking van die saak of 'n voorafgaande beslissing in parallelle geregtelike verrigtinge (wat uit wesenlik dieselfde feite as die strafsaak voortspruit) kan voorkom, mag tot die beskuldigde se nadeel wees. Sodanige mediadekking of bevindings in 'n parallelle geregtelike uitspraak mag die beskuldigde in die pleging van 'n misdryf, waarop hy of sy teregstaan, impliseer. Die publisiteit mag suggereer dat die beskuldigde "skuldig" is aan die misdaad waarop hy of sy teregstaan of van swak inbors is en 'n geneigdheid het om misdaad te pleeg. Daarteenoor mag voorverhoorpublisiteit die beskuldigde as onskuldig aan enige strafregtelike oortreding voorstel. In sodanige gevalle ontstaan die vraag of daar 'n daadwerklike of wesenlike risiko is dat sodanige publisiteit die onpartydige beregting van die strafsaak wesenlik sal beinvloed of skaad; anders gestel: of die publisiteit waarskynlik 'n klimaat van vooroordeel in die beregtingsproses of uitslag van die saak by die verhoorhof mag teweegbring en daardeur die grondwetlike reg op 'n billike verhoor sal skaad. In die Suid-Afrikaanse reg kan voorsittende regters en landdroste strafverhore met of sonder assessore bereg. Die gebruik van assessore het ten doel om gemeenskapsdeelname aan die beregtingsproses te bevorder. Daar is derhalwe al geargumenteer dat assessore, in besonder leke-assessore in die landdroshowe, meer geneig sal wees om onbehoorlik deur ongunstige voorverhoorpublisiteit beinvloed te word as wat die geval sou wees met opgeleide regsprekende beamptes. In hierdie artikel word daar egter aangevoer dat, aangesien die assessore tydens die beregtingsproses met die voorsittende beampte oorleg pleeg, dit tot verbeterde beregting kan lei deur 'n breer uitkyk op die feite ('n sogenaamde "enlargement of mind"). Sodanige interaksie en beredenering wat plaasvind tussen die voorsittende beampte en die assessore kan ook groter deursigtigheid in die beregtingsproses teweegbring of bevorder deur die ontbloting en uitskakeling van ontoelaatbare faktore in die regsbeslissing, soos byvoorbeeld voorverhoorpublisiteit of ander vooroordele. In hierdie verband ontleed die artikel die werking van die assessorestelsel in die Suid-Afrikaanse reg en verduidelik waarom besonder-ernstige strafsake wat uitgebreide voorverhoorpublisiteit voortbring, in die Hooggeregshof met assessore bereg behoort te word.