Abstract:
Die Konvensie oor die Regte van Persone met Gestremdhede (A/RES/61/106) is by wyse
van 'n resolusie op 13 Desember 2006 deur die Algemene Vergadering van die Verenigde
Nasies aanvaar. Artikel 29 van die Konvensie waarborg die politieke regte van gestremde
persone op 'n gelyke basis met ander mense. Staatspartye moet op 'n gelyke basis die doel-
treffende en volle deelname van persone met gestremdhede aan politieke en openbare
lewe verseker. Die Konvensie beskik oor 'n moniteringsprosedure kragtens die Opsionele
Protokol, waarvolgens enige individu of groep individue by die Komitee oor die Regte
van Persone met Gestremdhede 'n klagte (of mededeling) kan indien as di6 staat enige van
sy verpligting ingevolge die Konvensie verbreek het. In Zsolt Bujdoso v Hongarye het ses
klaers so 'n kommunikasieproses ("communication") by die Komitee ingedien, waarna die
Komitee die mededeling ondersoek en sy menings en aanbevelings hierop gelewer het.
Die ses klaers is persone met intellektuele gestremdhede wat weens 'n beperking op hul
regsbevoegdheid as gevolg van voogdyskap kragtens 'n geregtelike beslissing van die
kiesersregister van hul land verwyder is. Die Komitee kom tot die gevolgtrekking dat die
staatsparty versuim het om sy verdragsverpligtinge kragtens artikel 29 (alleen gelees en in
samehang met artikel 12) van die Konvensie na te kom. Die Komitee bevind verder dat
die beoordeling van individue se regsbevoegdheid (artikel 12 van die Konvensie) op
grond van hul gestremdheid deur 'n hof of ander tribunaal diskriminerend van aard is.