Abstract:
Die eerste Spelreëls van die Akademie het in 1915 die lig gesien, die eerste Woordelys in 1917, terwyl die derde en die vierde uitgawe in 1921 en 1931 respektiewelik verskyn het. Met die Spelreëls en Woordelys het die Akademie hom beywer om in die spellingaangeleenthede van ’n jong taal leiding te probeer gee. Daardie leiding is, trots allerlei besware en selfs teëkanting, oor die algemeen gevolg, sodat daar gaandeweg ’n spellingtradisie geskep is. Ten gevolge van hierdie tradisie kan die spelling van suiwer Afrikaanse woorde nou as vrywel vasstaande beskou word, terwyl daar oor die skryfwyse van vreemde woorde by ’n oorgroot meerderheid van die skrywende publiek verheugende eenstemmigheid heers. Die aantal dubbelvorme wat nog erkenning geniet, lewer die bewys dat daar nog g’n absolute standaarduitspraak in die taal self tot stand gekom het nie, wat trouens nie te verwag was nie. Andersyds is die aantal dubbelspellinge van vreemde woorde slegs ’n erkenning dat allerlei min of meer wetenskaplike woorde nog nie deur almal as ingeburger beskou word nie. Die feit dat die vorige uitgawe van die Woordelys en Spelreëls in ’n betreklike kort tyd reeds weer uitverkoop is, kan seker wel as ’n aanduiding van die betekenis van die Akademie se leiding in hierdie aangeleentheid opgevat word. Hierdie feit is des te merkwaardiger, omdat die vorige (vierde) druk in ’n tyd verskyn het toe die meningsverskille insake ons spelling ’n hoogtepunt bereik het en dit gelyk het of ’n vergelyk tussen die uiterste standpunte nie sou kon bereik word nie. Op die Spellingkonferensie gehou op Stellenbosch van 4 tot 6 Januarie 1932 is daar egter ’n vergelyk tussen die verteenwoordigers van die Akademie en van die Universiteit van Stellenbosch bereik. Prof. D. B. Bosman het daarna ’n „Lys van Wysiginge” opgestel wat ingevolge die besluite van die Spellingkonferensie op Stellenbosch in die Woordelys en Spelreëls van die Akademie aangebring moes word, ’n lys wat deur die Nasionale Pers, Bpk., in brosjurevorm uitgegee en later deur die Akademie offisieel bekragtig is. Hierdie (vyfde) uitgawe het derhalwe met genoemde wysiginge rekening te hou. Wanneer hierdie uitgawe met die vorige vergelyk word, sal dit dadelik blyk dat die ooreenkoms wat on die Spellingkonferensie bereik is, veral twee kwessies geld: die skryfwyse i/ie en die spelling van vreemde woorde. Oor die lastige spellingkwessie: i of ie in die geval van vreemde, veral sogenaamde internasionale woorde van klassieke herkoms, is daar eindelik eenstemmigheid bereik. Die ooreenkoms ten opsigte van die spelling van vreemde woorde in die algemeen het die erkenning van meer dubbelspellinge meegebring.