Abstract:
As daar eenkeer ’n begin gemaak is met spellingverandering, dan volg dit vanself dat dit van tyd tot tyd herhaal moet word. Tog is die veranderinge in die Nuwe Spelreëls nie groot nie. Daar het ’n paar wysiginge gekom, waarvan die vernaamste seker is die wegval van die stom w, die vervanging van ij deur y en van y deur ie of i, en die nagenoeg konsekwente verafrikaansing van vreemde woorde. Maar dit is meer ’n kwessie van gewysigde en, na ons vertrou, verbeterde formulering, met natuurlik enige aanvullinge. Dis nou ’n goeie vyf jaar gelede dat die eerste spelreëls verskyn het. Sedert dié tyd het die gebruik van Afrikaans geweldig toegeneem, en het ’n algemene gevoele ontstaan dat wysiginge en aanvullinge op verskillende punte noodsaaklik is. Hiermee is sover moontlik rekening gehou. Twee van die grootste besware deur die publiek ingebring teen die eerste spelreëls was, eerstens : te veel vryheid ten opsigte van die vraag wat as vreemde woorde moes beskou word; ten twede : te veel dubbelvorme. Die publiek wou meer vastheid hê, veral met die oog op die skole. In die nuwe spelreëls word vreemde woorde nagenoeg deur die bank verafrikaans, en dubbelvorme tot ’n mienimum gebring. Die beswaar teen die dubbelvorme het veral gegeld die woorde op ing naas eng en ink naas enk. Hierdie beswaar is uit die weg geruim deurdat die woorde nou verdeel word in twee groepe, in ooreenstemming met die algemeenste uitspraak : woorde met ing, ink óf eng, enk. Die reël om ’n medeklinker nie te verdubbel na ’n swakbeklemde klinker nie ( bobiaan, frikedel), waarteen veel beswaar gemaak is, is verval. Die reël is op sigself goed, maar moet dan ook konsekwent toegepas word, en dit gaan voorlopig nie. ’N punt waaromtrent baie onsekerheid geheers het, was wanneer die swakbeklemde e moet geskrywe word voor die uit ganglik, en wanneer v oorgaat in w by vreemde woorde. Ons meen dat die nuwe formulering ’n bevredigende uitweg gee in altwee gevalle. Die gebruik van deeltekens, waaroor ook veel geklae is, is vereenvoudig. Dan is daar gestreef om sover moontlik die reëls uit Afrikaans self te formuleer, sonder Nederlands daarby te haal. Met die oog op die plek wat Nederlands naas Afrikaans inneem, kon dit begryplikerwyse nie orals gedaan word nie. Heelwat oorbodige vreemde woorde is geskrap, heelwat gebruiklike in die plek gekom. Tog moet ook hierdie uitgawe van die Woordelys nie beskou word as ’n versameling van die Afrikaanse woordeskat nie. Dis in die eerste plaas saamgestel met die oog op spellingmoeilikheid. Juis met die oog hierop sou die samestellers maar alte graag meer tegniese terme opgeneem het, maar om verskillende redes is dit nie geluk nie. Al het ons almal in die laaste jare veel meer vastigheid gekry ten opsigte van wat as die beste spelling van Afrikaans mag beskou word, weet die samestellers maar alte goed dat daar ook dié slag heelwat aan te merk sal wees, en baie nie tevrede sal wees nie. Wie mag iets anders verwag van so iets as ’n spellingreëling? By die keuse van ’n bepaalde vorm, is egter voortdurend gestreef om die algemeenste uitspraak te kies, of waar dit nie die deurslag kon gee nie, is dié vorm gekies wat om historiese of praktiese redes as die beste mag beskou word; terwyl by wysiginge nie minder getrag is om algemeen gevoelde leemtes uit die weg te ruim nie. As die samestellers hierin misgetas het, dan hou hulle hul aanbevole vir voorligting.