Abstract:
Die fokus van hierdie bydrae is op sekere aspekte van die produkte-aanspreeklikheidsbepalings
vervat in artikel 61 van die Wet op Verbruikersbeskerming 68 van 2008. Dit
sluit spesifiek persone in wat ingevolge die Wet locus standi het om bevoegde instansies
te nader om regshulp waar nadeel of skade opgedoen is as gevolg van onveilige en
defektiewe produkte. Die geskiktheid van regshulp en remedies in die konteks van
produkte-aanspreeklikheid moet onder andere deur die prisma van die trefwydte van die
betrokke produkte-aanspreeklikheidsregime beskou word. Dit is belangrik om te bepaal
wie 'n produkte-aanspreeklikheidseis kan instel en dit is deurslaggewend by die bepaling
van die vraag of die betrokke produkte-aanspreeklikheidsregime effektief is en behoorlike
beskerming bied. Die bydrae ondersoek die oënskynlike streng produkteaanspreeklikheidsregime
wat deur die Wet op Verbruikersbeskerming ingestel is, wat
insluit die aanspreeklikheid (al dan nie) van al die verskaffers in die verskaffingsketting
asook die tipes skade wat by produkte-aanspreeklikheid in hierdie verband ingesluit word.
Vir sover 'n persoon egter kwalifiseer om 'n eiser in 'n produkte-aanspreeklikheidsaak te
wees, blyk dit dat die wetgewer (opsetlik of onopsetlik) die omvang van die bepalings van
artikel 61 van die Wet in hierdie verband teenstrydig met die doel van die Wet beperk het.
Hierdie kwessie is onlangs in die eerste produkte-aanspreeklikheidsaak ingevolge die Wet
in Eskom Holdings Ltd v Halstead-Cleak aangespreek en vorm deel van die kritiese
analise van die bydrae.