Abstract:
Die verlyding van 'n testament is 'n belangrike stap wat 'n persoon gedurende sy leeftyd
doen. Die testateur word gekonfronteer met sy eie sterflikheid en die verlyding van 'n
testament vereis 'n opregte en ware weerspieëling van die testateur se bedoeling. Vir 'n
testament om geldig te wees, moet die verlyding daarvan binne die breë raamwerk van die
formaliteite soos voorgeskryf deur die Wet op Testamente geskied. Die doel van formaliteite
is tweeledig: Aan die een kant bevestig die testateur die inhoud van sy testament
(sy bedoeling) en, aan die ander kant, bevestig die getuies die handtekening van die
testateur. Indien 'n testateur om watter rede ook al sodanig verswak is dat hy nie meer
fisies sy testament kan teken nie, moet daar ingevolge die Wet op Testamente bystand aan
die testateur verleen word deur onder andere 'n kommissaris van ede.
Na'n persoon se afsterwe verskuif die fokus vanaf die routydperk na die realiteit dat die
afhandeling van die oorledene se boedel moet plaasvind. Indien 'n geldige testament
gevind word, sal dit die verdeling van die boedel bepaal. 'n Dokument wat nie behoorlik
verly is nie, is egter ongeldig en kan tot groot ongelukkigheid en familietwis lei. Daar het
byvoorbeeld na die afsterwe van rugbyheld Joost van der Westhuizen, wie se gesondheid
weens motorneuronsiekte erg agteruit gegaan het, 'n dispuut ontstaan oor die geldige
verlyding van 'n dokument wat as sy testament voorgele is.
Uit onlangse regspraak blyk dit dat waar 'n verswakte testateur 'n testament verly, die
toepaslike formaliteite dikwels nie na behore nagekom word nie. Die regsaspekte wat in
hierdie bydrae bespreek word sluit in: (a) die statutere vereistes van die Wet op
Testamente wat nagekom moet word wanneer 'n persoon wat nie in staat is om sy eie
testament te teken nie, 'n testament wil verly; (b) die verskillende wyses vir die opstel
("drafting") en verlyding ("executing") van 'n testament deur 'n verswakte persoon;
(c) die rol van die Meester van die Hooggeregshof by die aanvaarding of verwerping van 'n
testament, en (d) die moontlike kondonering van 'n dokument ingevolge artikel 2(3) van
die Wet op Testamente wat nie aan die vereistes vir ondertekening in artikel 2(1)(a)(v)
voldoen nie.