Abstract:
In hierdie hoofstuk word Jürgen Moltmann se bydrae tot Reformatoriese teologie
ondersoek. Sy teologie kan beskryf word as ’n teologie wat Bybels gegrond is, ’n
eskatologiese gerigtheid en ’n politieke verantwoordelikheid het. Dit is juis om hierdie rede
dat sy teologie ook ‘reformatories’ is. Dit is ’n beskrywing waarvoor hy ook doelbewus kies,
omdat die begrip ‘reformatories’ die dinamiese, voortgaande en profetiese karakter van
Reformatoriese teologie aandui. Hierdie teologiese karakter kom veral na vore in Moltmann
se verstaan van die Triniteitsleer en sy trinitariese teologie, wat beskryf kan word as ’n
‘Trinitariese teologie van solidariteit en sosiale geregtigheid.’ Die lewensruimte van die
Triniteit word deur Moltmann as ‘wye ruimte’ beskryf, en as ’n ‘uitnodigende ruimte’ waarin
daar nie beknoptheid is nie. Binne die hoofstuk word dit geargumenteer dat Moltmann se
Triniteitsteologie die hartklop is van sy bydrae tot Reformatoriese teologie. Dit is baie nou
verbind aan sy politieke teologie en word geïllustreer op die wyse waarop sy Triniteitsteologie
en sy politieke teologie van inklusiwiteit en geregtigheid met mekaar verweef is.