Abstract:
Vryheid is naas regverdiging een van die belangrikste temas van die Reformatoriese
teologie. Luther se geskrif ‘Oor die vryheid van ’n Christenmens’ (1520) is een van sy
hoofgeskrifte. In hierdie geskrif beskryf hy die vryheid van die innerlike en die uiterlike
mens. Die innerlike mens is vry en niemand se onderdaan nie. Die uiterlike mens is weer
elke ander mens se onderdaan en dienskneg. Die Christen dien sy medemens deur die
liefde. Luther se verstaan van naasteliefde word vanuit ander geskrifte toegelig. Johannes
Calvyn se verstaan van vryheid volgens sy ‘Institusie’ van 1559 word ook bespreek. Daar
word op die groot ooreenstemming tussen Luther en Calvyn gewys. Die verskille tussen die twee Reformatore is minimaal. Calvyn het egter wel groter aandag aan die adiaforavraagstuk
gegee. Daar word ook deurgaans na Philipp Melanchthon se invloed op Calvyn
gewys. Die relevansie van die vryheidsvraagstuk lê nie in die instrumentalisering van die
Christelike vryheid nie, maar in die hernude bestudering van die klassieke tekste met die
bedoeling om die belangrike reformatoriese motiewe te herontdek. Hierdie motiewe is
relevant – ook in ons samelewing.