Abstract:
Martin Luther het as monnik getwyfel of hy ooit genoeg goeie werke sou kon doen en
daarom nie genade by God sou kon vind nie. Danksy sy noukeurige bestudering van
Paulus se briewe het hy ontdek dat God, die Vader van Jesus Christus, nie die toornige
God is wat net wil straf nie, maar die barmhartige Vader is wat genade wil betoon. Die
boodskap oor God se barmhartigheid sien Luther saamgevat in die begrip ‘geregtigheid
van God’. God se geregtigheid bestaan in sy wil om sondes te vergewe sodat gelowiges
voor Hom as geregverdigde mense kan bestaan. In hierdie hoofstuk word God se drie
gestaltes van geregtigheid verduidelik aan hand van die drie gestaltes van sonde.
Aangesien daar voortdurend misverstand is oor Luther se erns jeens goeie werke, word
daar in diepte aandag gegee aan die samehang tussen geloof en werke in sy denke. Die
vraagstelling word toegespits op die doen van liefde. Daar word daarop gewys dat Luther
se betoog daarop neerkom dat slegs persone wat goeie bome (deur die geloof) gemaak
word, in die doen van die liefde kan volhard.