Abstract:
Adrianus van Selms as protestantse Teoloog. Van Selms het in 1938 vanaf Nederland na Suid-
Afrika toe gekom om Semitiese Tale te doseer in die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte aan die
Universiteit van Pretoria. Hy het ook deeltyds in die Fakulteit Teologie doseer. Die Universiteit
van Pretoria het hom as een van denkleiers van die 20ste eeu aan die universiteit erken. Hy het
geslagte van teologiese studente beïnvloed tydens sy amptelike dienstydperk aan die
universiteit, vanaf 1938 tot 1971. Meer as 300 publikasies staan agter sy naam. Behalwe vir
werk wat hy op die terrein van die Semitiese Tale gelewer het, het hy ook verskeie kommentare
oor Ou-Testamentiese boeke geskryf. Verder was hy ook aktief as prediker in die kerk en het
ook ’n uitsonderlike bydrae tot die kategesemateriaal van die Kerk gelewer. As teoloog het
Van Selms aansluiting gevind by die reformatoriese tradisie van die 16de eeu. As eksegeet het
hy die uitdaging aanvaar om die Bybelse tekste te lees in die erkenning van die historiese
afstand wat die hedendaagse leser van die oorspronklike tekste skei. Hy is sodoende
gekonfronteer met die knaende probleem van die benadering tot die Bybelse tekste: dogmaties
of histories-krities? Deur as eksegeet sy eie dogmatikus te word, het hy die twee benaderings
nie apart gehou nie, maar tot ’n eenheid gebring en op die manier ’n hervorming in die
beoefening van die teologie verteenwoordig. Hy aanvaar met hierdie werkswyse die
verantwoordelikheid vir die erfenis van die Kerkhervorming vir die kerk van sy dag. Die
hoofstuk ontwikkel langs die verwagtinge wat aan die amp van predikant in die reformatoriese tradisie gestel word: teologie, prediking, kategese en herdelike sorg.