Abstract:
Navorsing oor veranderende konsepte van God toon aan dat die oorsprong van ateïsme na die skolastici van die laat-middeleeue teruggevoer kan word. Hierdie ondersoek poog om die verhouding tussen Johannes Duns Scotus se eenduidige konseptualisering van God en die verwerping van God deur moderne ateïste aan te toon. Die verandering van Thomas Aquinas se analogiese teologie na Johannes Duns Scotus se eenduidige ontologiese konseptualisering van God het `n groot invloed op nominalistiese teologie en die moderne realiteitsverstaan gehad. Nominaliste soos William van Occam het hierdie eenduidige konsep van God later kombineer en verder ontwikkel met die gevolg dat God later nie meer ontologiese voorkeur geniet het nie. Waar Aquinas die klem op God se transendensie gelê het, was daar ‘n toenemende neiging om God al hoe meer immanent te verstaan. ʼn God wat op dieselfde wyse as die mens bestaan, word dus ʼn “wese”, ʼn “getemde God”. Scotus en latere nominaliste het God se kwantitatiewe andersheid bo sy kwalitatiewe andersheid beklemtoon. Binne `n akademiese ruimte waarin die waarheid van die Christelike geloof en die outoriteit van die Rooms Katolieke Kerk nie bevraagteken is nie, was die invloed van hierdie teologiese veranderinge klein. Die Reformasie het dit egter verander, en alhoewel dit nie die bedoeling was nie, was die gevolg dat hierdie eenduidige konseptualisering van God deel van moderne teïsme geword het. Duns Scotus se invloed was so groot dat daar ook na hom as die stigter van moderniteit verwys kan word. Na die Reformasie het Descartes se cogito ergo sum daartoe gelei dat die rede alleen as bron van betekenis gegeld het. Hierdie ontwikkeling het voorkeur aan epistemologie bo ontologie gegee. Binne hierdie moderne realiteitsverstaan is daar nie plek vir ʼn eenduidige konseptualisering van God nie. Omdat ateïste juis hierdie konsep van God verwerp, is daar waarde in die bestudering van ateïsme.
Sleutelwoorde: ateïsme, Thomas Aquinas, Johannes Duns Scotus, William van Occam, analogie van syn, eenduidige syn, Descartes, die Reformasie, Amos Funkenstein, Gavin Hyman, Brad Gregory, epistemologie, ontologie, skolastici, nominalisme, moderniteit, moderne teïsme.