Abstract:
Benewens verwysings na die menslike liggaamsdeel wat soms antropomorfies op die Godsbeeld geprojekteer word, is die woord, ידָ (hand), ook party keer ʼn metafoor in die Hebreeuse Bybel, en dan met ’n betekenis wat in ten minste een van ses moontlike betekeniskategorieë inpas: eufemisme vir die fallus, sykant van die liggaam, begrensdheid, onbegrensdheid, verdeling of kulturele voorwerpe waarvan die gedenkstene veral belangrik is. Soms oorvleuel hierdie kategorieë. Uit elkeen van hierdie metaforiese gebruike kan sekere afleidings gemaak word oor die destydse kollektiewe beeld van die menslike hand wat waarskynlik onbewustelik gebly het, maar tog deur metafore verraai word. Die metaforiese gebruik kan as ’n soort verplasing van die letterlike gebruik beskou word en die soeke na die onderliggende aspek van die hand wat by elkeen betrokke is, is dus eintlik ’n soort “terugvertaling” na die oorspronklike, letterlike betekenis maar gaan selfs verder deur die onbewuste beeld van hierdie liggaamsdeel na te speur.